Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Sewejarige seun, Jeandré Kammies, het Dinsdagoggend net na 07:00 omgekom toe 'n motor hom in Dassieweg voor die departement van binnelandse sake in Oudtshoorn raakgery het.
Sy pa, Jacques Stanley, het op die toneel aan Oudtshoorn Courant gesê sy seun was op pad na 'n winkel toe die ongeluk gebeur het. Kammies was 'n leerder by Bergsig Primêr.
"Ek was van die eerste persoon op die toneel. Met my aankoms het ek aan my kind se pols gevat en duidelik gevoel dat hy nog leef. Na 'n rukkie het Jeandré egter doodstil gelê, en dis toe dat ek besef het dat my seun dood is," het 'n emosionele Stanley vertel. Paramedici het Kammies op die toneel dood verklaar.
Die Oudtshoorn-polisie het by navrae bevestig dat 'n klag van strafbare manslag teen die bestuurder van die betrokke voertuig geopen is.
"Na bewering was 'n 26-jarige manlike bestuurder op pad om sy vriendin se kinders by die skool af te laai toe die ongeluk gebeur het. Volgens die bestuurder het hy na die ongeluk gestop, maar die gemeenskap het glo oproerig geraak, waarna hy na die polisiestasie gery het om die voorval aan te meld."
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'