Nadat die vuur geblus is het noodwerkers 7 verbrande liggame in die puin ontdek. ‘n Baba van 7-maande (Hope Jantjies) is in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem met ernstige brandwonde aan haar gesig, hande en voete (Haar ma is in die brand oorlede). Twee volwassenes is behandel vir geringe brandwonde en rookinaseming en later ontslaan.
Volgens ‘n ooggetuie, herbalis en Khoisan stamhoof Victor James Green was hy in ‘n aangrensende gebou besig om te was toe hy die vlamme gewaar. "Ek het aangetrek en uitgehardloop, ek het ‘n deur oopgetrap om die mense wakker te maak maar die vlamme was te woes," het ‘n geskokte Green op die toneel gesê.
Nie een van die oorlewendes kon daarin slaag om enige besittings te red nie.
"Die vuur was te kwaai, ons moes net onsself daar uitkry" het Jonathan Alkaster gesê.
Dit is ironies dat die Oudtshoorn Courant dieselfde gebou (sien voorblad) presies ‘n maand voor die ramp, op 5 Oktober, besoek het en dat een van die inwoners toe opgemerk het: "Meneer kyk hoe moet ons hier lewe, hier is nie eers ‘n tap vir water nie, as hier ‘n vuur kom kan ons niks doen nie."
Dit is nie duidelik presies hoeveel mense in die geboue was ten tye van die brand nie aangesien sommiges elders gekuier het. Die Oudtshoorn Munisipaliteit het tydelike verblyf vir alle oorlewendes by die Bridgton-vakansieoord gereël. Ten tye van die Oudtshoorn Courant se besoek was daar, volgens maatskaplike dienste, 28 mense gehuisves.
Volgens die polisie is die oorsaak van die brand nog onbekend en is ‘n forensiese ondersoek aan die gang.
Die oorledenes is:
Andrika Jantjies (28), Jan Gelant (46) en sy twee seuns Ishwill (7) en Juandré Windvogel(10), Janine Pieterse(26), haar seun-tjie Llewelyn (22 maande) en haar man Marshall Vaaltyn(28).
Skenkings aan die munisipale rampfonds wat gestig is kan in die volgende rekening inbetaal word:
Standard Bank Oudtshoorn
Rekeninghouer: Oudtshoorn Municipality GG-camp Mayoral Relief fund
Rekeningnommer: 330 073 435
Takkode: 050 514
Skenkings van goedere kan afgelewer word by die Munisipale Gemeenskapsdienste in die ou polisie-gebou in Asstraat Bridgton. Kontakpersoon: Irene Malgas 044 203 3903
(Sien nog berigte op bladsy 3)
Twee plaaslike begrafnisondernemers het aangebied om die begrafniskostes te dra.
Begrafnisreëlings vir die 7 brandslagoffers:
Jan Gelant en sy twee seuns Ashwill en Jeandre Windvogel word Saterdagoggend om 9:00 vanuit die Nuwe Apostoliese Kerk begrawe.
Die ander vier oorledenes, Andrika Jantjies, Janine Pieterse, Llewelyn Pieterse en Marshall Vaaltyn word vanuit die Bongolethu Gemeenskapsaal om 12:00 begrawe na gebedsbyeenkomste by die huise van familielede om 11:00.
‘n Roudiens, vir alle families word vanmiddag om 14:00 by die Bongolethu Gemeenskasaal gehou met ‘n kranslegging wat later sal volg.

Die verwoestende vlamme wat sewe lewens die afgelope naweek geëis het. Foto verskaf.
Al wat oorgebly het van 10 kamers en ‘n kerksaal is verfrommelde staal en as.
Agrippa Mduma en Inge-Marie Claassen wat al hul besittings verloor het, saam met Felicia Hansen (regs) wat in ’n ander gebou woon maar gestoorde besittings verloor het.
ARTIKEL EN FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS