Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vyf hoërskoolseuns is Woensdagmiddag omstreeks 12:30 deur munisipale wetstoepassers aangekeer nadat hulle vermoedelik grafstene beskadig het.
Volgens munisipale werkers wat in die begraafplaas was, het hulle stemme en harde geluide gehoor. Hulle het ondersoek ingestel en die seuns tussen grafte opgemerk.
Hulle het gesien dat van die grafstene beskadig is en wetstoepassers ontbied. Die seuns het die hasepad gekies toe die wetstoepassers minute later opdaag, maar twee van hulle is deur werkers ingehardloop en aangekeer.
Die ander drie het in die rigting van die gholfbaan laat spaander en is by die hoofpad deur wetstoepassers ingewag.
Op een van die beskadigde grafstene was duidelike vars merke waar gedeeltes van die kopstuk op die blad stukkend gegooi is. Die kopstuk is ook afgebreek.
Een van die seuns het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle niks gedoen het nie en eintlik probeer het om die grafsteen "reg te maak". Hy kon egter nie antwoord toe 'n wetstoepasser vra waarom hulle dan weggehardloop het nie.
Die seuns is in Bridgton Sekondêr en Protea Hoërskool en het skynbaar nie Woensdag skool toe gegaan nie.
Volgens inskrywings op Facebook het lede van die publiek die seuns vroeër op straat opgemerk.
Kyk 'n video hieronder:
Die skoolhoof van Protea het die koerant geskakel om die versekering te gee dat daar streng opgetree sal word teen die leerders wat in sy skool is en dat 'n tugverhoor met die beheerliggaam gereël word.
Teen spertyd gister was dit nog nie duidelik watter stappe deur die wetstoepassers teen die seuns geneem is nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Kinders aangekeer vir grafbeskadiging
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'