OUDTSHOORN NUUS - 'n Gesin van vyf van Bridgton op Oudtshoorn het Maandag al hul besittings verloor toe 'n familielid glo die huis in 11de Laan aan die brand gesteek het.
Christina Melight (66) sê haar 46-jarige seun, 'n skisofrenie lyer, het die huis omstreeks 05:30 aan die brand gesteek.
Volgens haar was hy alleen tuis omdat hulle nie met hom kan huishou nie.
Sy en haar dogters en kleinkinders slaap by familie. Toe hulle die tyding kry dat die huis in ligte laaie is het hulle inderhaas gegaan om te kyk wat te redde is.
"Ons kon niks red nie en teen die tyd dat die brandweer opgedaag het was al die huis se inhoud uitgebrand asook die plafon en dak van die sitkamer.
Volgens Melight het sy al verskeie pogings aangewend om hulp vir haar seun te kry maar tevergeefs.
"Ek was al by maatskaplike dienste en by die hof, maar word oral weggewys."
Christine Melight (middel) saam met haar suster Suzie Ajamp (links) en een van haar kleinkinders, Mortlin Meyer. Foto's: Garnett Wicomb
Volgens haar is dit nie die eerste keer dat haar seun van haar besittings aan die brand steek nie. Hy het ook al sy klere uitgebrand. "Hy ly 27 jaar aan die siekte," sê sy.
Hy is tans in aanhouding en sy weet nie wat nou gaan gebeur nie.
"Ons kan nie rustig slaap nie en daarom slaap ons by familie," sê Mekight.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'