OUDTSHOORN NUUS - Wat veronderstel was om 'n doodgewone, sonnige Saterdagoggend te wees, het in trane vir 'n moeder en vader geëindig toe hul 12-jarige seun, Cullen, noodlottig beseer is toe hy deur 'n voertuig van sy fiets in Zebraweg gestamp is.
Volgens Cullen se ma, Henriette Boezak, het haar seun die betrokke oggend reeds om 08:00 opgestaan om voor te berei vir die fietsresies waaraan hy vanaf 13:00 die middag by die Oudtshoorn-ovaalbaan sou deelneem.
Sy laaste woorde aan my was: "Mammie, ek wil net gou opwarm en my litte losmaak, want vandag wil ek die ouens by die baan wen," het sy gesê.
Sy vertel dat een van Cullen se maats haar skaars 'n uur later by die huis kom inlig het dat haar seun omgery is.
"Ek en my suster het in my kar geklim en na die toneel gery wat nie vêr van ons huis af is nie. Met ons aankoms het Cullen op sy maag gelê met die bloed wat uit sy ore en neus gestroom het. As 'n gekwalifiseerde verpleër wou ek glad nie aan hom raak nie uit vrees dat dit sy toestand kan vererger. Hy het nog liggies gesnik vir sowat 'n halfuur, maar naderhand het hy leweloos op die teerpad gelê."
Die ambulansdienste het volgens Henriette, bykans 'n uur nadat die ongeluk plaasgevind het eers opgedaag. Paramedici het Cullen op die toneel dood verklaar.
'n Persoon wat naby die ongelukstoneel woon het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat 'n taxi glo voor Cullen in die rigting van Bongolethu-sirkel gery het. "Die taxi het skielik gestop en agteruit gery om iemand op te laai, en Cullen moes toe uitswaai. Dis toe dat 'n Golf wat met 'n stink spoed van agter gekom het, Cullen met 'n helse slag getref het. Die arme seun het deur die lug getrek en hard op die teer te lande gekom."
Boezak het haar seun as 'n lewenslustige seun beskryf wat baie gewild was onder sy maats. "Hy was amper soos die leader of the pack. Hulle het alles saamgedoen. Hulle het onlangs selfs 'n YouTube-video op Facebook gesit waar hulle hul danspassies wys. En hy was verskriklik lief vir fietsry.," het sy vertel.
Sy ouma, Cynthia Arries, het gesê dat sy haar kleinseun ontsettend baie gaan mis. "Cullen was sy oupa (Graham Arries) se oogappel en hy het van kleins af tussen ons twee geslaap. Net die tyd sal ons droefheid wegvat."
Cullen laat sy pa (Fabian Arries), ma (Henriette Boezak) en suster (Hailey Boezak) agter. Colridge Primêr, waar Cullen 'n leerder was, het Dinsdag 'n verbyry-blommelegging by sy ouerhuis in Zebraweg gehou.
Teen druktyd was die familie nog besig met die begrafnisreëlings. By navraag het Sers.Gretchen Michaels, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, gesê dat 'n klag van strafbare manslag ondersoek word, maar dat niemand op hierdie stadium gearresteer is nie. Sy het ook gesê dat die bestuurder na bewering nie 'n rybewys het nie.
Cullen se ma, Henriette Boezak en haar 5-jarige dogtertjie, Haylie. Foto: Wyndham Ewerts
Zebrawegstraat waar die ongeluk plaasgevind het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'