OUDTSHOORN NUUS - 'n Elfjarige seun, Ricklin Mars, is Sondag 5 Maart, op die N12 naby Klaarstroom deur 'n motor doodgery.
Die ongeluk wat omstreeks 13:15 plaasgevind het, het die klein gemeenskap van Klaarstroom geruk.
Volgens kapt. Claassen, stasie-bevelvoerder van Prins Albert-polisie, het 'n groepie kinders saam met volwassenes op 'n brug naby Klaarstroom gestaan en kyk hoe die water in die rivier afkom na die reën.
'n Motoris het die brug, waarop die kinders gestaan het vanaf 'n noordelike rigting genader. Mars het voor die aankomende motor ingehardloop, en is hy noodlottig getref.
Claassen sê dat 'n saak van strafbare manslag geopen is.
Volgens 'n familielid van Mars, was 'n verkeersbeampte reeds op die toneel toe die familie daar aankom. "Die beampte het van die oranje keëls om hom gepak. Later het die brandweer, ambulans, polisie en forensiese-eenheid ook hier aangekom," vertel die familielid.
Volgens haar was daar vier persone in die motor, en het hulle glo uit Prins Albert se rigting gekom om een van die insittendes in Klaarstroom af te laai. Sy sê dat die ongeluk net voor Klaarstroom se afdraai, op die brug waar die bloekombome staan, plaasgevind het.
"Die toneel was vir ons vreeslik deurmekaar. Mense vertel dat een van die insittendes glo in die rivier ingehardloop het, terwyl hy sy hare vasgehou het. Hy was die ene modder. Ek kan nie verstaan waarom hy so iets sou doen nie," sê sy.
Volgens haar het die brandweer-beamptes gehelp om die motor wat in die ongeluk betrokke was, weer aan die gang te kry. "Die bestuurder en twee ander insittendes van die voertuig het toe teruggery na Beaufort-Wes toe," vertel sy.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is 'n saak van strafbare manslag geopen, en 'n ondersoek word gedoen. Die dossier sal nou na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur word sodra die ondersoek afgehandel is vir 'n besluit om te vervolg of nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'