OUDTSHOORN NUUS - Die sesde Karoo Small Town Regeneration (STR)-konferensie in samewerking met South Africa Government Association (Salga) is op 16 en 17 Mei by Surval Boutique Olive Estate gehou.
Meer as 40 Karoo-munisipaliteite, wat Vrystaat, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap verteenwoordig, asook relevante nasionale- en provinsiale departemente, het die geleentheid bygewoon.
Wie is Salga?
Salga fokus op plaaslike regerings-transformasies asook die ondersteuning aan munisipaliteite om hul ontwikkelings-verpligtinge na te kom.
Die organisasie is ook die dryfveer agter die Small Town Regeneration (STR) inisiatief.
Salga is daarop gemik om ekonomiese groei en werkskeppingsinisiatiewe te verseker en ruimtelike transformasiestrategieë te bewerkstellig.
Wie is STR?
Die STR-inisiatief is gestig om die samewerking van munisipaliteite in die Karoo-jurisdiksiegrense in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en Oos-Kaap te fasiliteer.
Die doel van die STR in samewerking met verskeie nasionale en provinsiale departemente, is om kleiner dorpies te restoureer en ekonomiese geleenthede te ontgin.
Daar word gefokus op die uniekheid en behoefte van elke dorp met elke fase van die inisiatief. Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thoko Didiza, het in Oktober 2020 die vier provinsies in terme van Spatial Planning and Land Use Management (Splum) as Karoo-streek geproklameer.
Die belangrikheid van Splum in die Karoo is om 'n raamwerk te bied waar koördinasie en verbeterde struktuur tussen die munisipaliteite, provinsiale en nasionale departemente kan ontwikkel.
Besprekings tydens die Salga-konferensie
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling asook die departement van samewerkende regering en tradisionele sake het drie moontlike opsies van bestuur en institusionele reëlings aan die munisipaliteite by die konferensie voorgehou:
- 'n Streekinterregeringsstruktuur/-forum
- 'n Karoo-streekontwikkelingsagentskap
- 'n Karoo-streekekonomiese ontwikkelingsassosiasie (Regional Economic Development Association)
Die konferensie het aanbeveel dat Salga aan die verskillende munisipaliteite in die Karoo skryf sodat hulle raadsbesluite oor die voorkeurbestuur en institusionele reëlings vir die Karoo kan verkry.
Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake sal saam met die munisipaliteite, provinsiale en nasionale departemente en alle belanghebbendes saamwerk om die nasionale STR strategie te implementeer.
Aanvaarding van die sesde Karoo STR-konferensieverklaring
Die aanvaarding van die sesde STR-konferensieverklaring is aan die konferensielede voorgelê en elke munisipaliteit sal 'n afskrif van die verklaring ontvang om tydens hulle raadsvergaderings te bespreek vir goedkeuring.
Afsluiting
Die burgemeester van Oudtshoorn, Chad Louw, het ook tydens die konferensie genoem dat Oudtshoorn reg is vir die bou van verhoudings en vennootskappe tussen privaat sektors, die regering en ander munisipaliteite van die Karoo-STR.
Van links is die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks en waarnemende direkteur van strategiese dienste, Lluwellyn Coetzee, tydens die STR-konferensie. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'