OUDTSHOORN NUUS - 'n Selfoondief het Maandagoggend besef dis nie sommer net vir gryp en hardloop nie en het skaars 'n blok gevorder voor hy gevang is.
Die krete om hulp van 'n ontstelde Vuvu Adonis in St Johnstraat toe haar selfoon reg voor haar huis gegryp is, het vier munisipale werkers en 'n lid van die publiek onmiddellik laat reageer.
Hulle het die grypdief aangekeer, in 'n motor geboender en polisiestasie toe geneem.
'n Ontstelde Adonis het Maandag op die toneel vertel dat sy pas die hek van die heining voor haar huis gesluit het en was nog besig om die sleutel te bêre toe 'n vreemdeling haar stamp, haar selfoon gryp en met St Johnstraat langs gevlug het. Sy het agter hom aangehardloop en kliphard om hulp geroep. 'n Man wat in St Johnstraat was het die dief ingehardloop en hom op die hoek van St John- en Jubileestraat ingehardloop. Vier munisipale werkers, wat ook in St Johnstraat besig was om vullis te laai, het die man ook agternagesit en tussen die vyf van hulle het hulle die man vasgekeer.
'n Lid van die polisie, wat toevallig in 'n privaat motor in die omgewing was, het ook op die gille gereageer en die selfoondief in hegtenis geneem en na die polisiestasie geneem.
Adonis het Maandag gesê alhoewel sy ontsteld is oor die voorval is dit vir haar verblydend om te sien hoe vinnig mense optree om iemand in nood te help. Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word 'n klag van roof ondersoek.
Die vier munisipale werkers saam met 'n lid van die publiek heel regs wat Maandagoggend 'n selfoondief aangekeer het. Hulle het nie hulle name verskaf nie, en net gesê hulle is bly hulle kon die man so vinnig vastrek en die selfoon aan die eienaar teruggee.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'