OUDTSHOORN NUUS - Die sage van die MCPS-sekuriteitsmaatskappy wat sy werknemers nie ten volle en gereeld betaal nie het Woensdagoggend breekpunt bereik toe sowat 30 ontstoke werkers besluit het om dié maatskappy se deure te sluit.
As deel van hul protesaksie het hulle ook vullissakke voor die perseel aan die brand gesteek. Volgens een van die werknemers wat verkies om anoniem te bly, is dit 'n onuithoubare situasie wat homself bykans elke maand herhaal.
"Dit kan mos nie wees dat daar 'n tekort van meer as R2 500 is wanneer ons salarisse inbetaal word nie. Ons werk ook gereeld uitputtende 12 uur skofte en volgens ons berekeninge word ons nie R20 per uur betaal soos die arbeidswet voorskryf nie.
"Verlede Saterdag was ons by 'n opleidingsessie op Matjiesrivier deur MCPS se bestuur ingelig dat ons salarisse Dinsdag inbetaal sou wees. Slegs 10% van ons totale salarisse is egter inbetaal. Ons is almal grootmense wat bereid is om te werk sodat ons ook brood op die tafel vir ons huisgesinne kan sit.
"Ons is nou gatvol om bakhand te staan vir geld waarvoor ons hard gewerk het."
Die eienaar van MCPS-sekuriteitsmaat-skappy, Roger Daniels, het in die Oudtshoorn Courant se teenwoordigheid oor die telefoon (luidspreker) gesê dat hy gister (Donderdag) die ontevrede werkers se griewe sou aanhoor omdat hy toe in Kaapstad was.
Daniëls kon egter nie bevestig dat die werkers se salarisse en agterstallige gelde ook gister betaal sou word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'