OUDTSHOORN NUUS - Bekommerde inwoners van Schultzstraat het verlede week met hul hande in hul hare gesit na 'n woning in hul woonbuurt vir 'n paar weke leeggestaan het en deur boosdoeners gevandaliseer en leeggedra is.
Die polisie is verskeie kere in verband met die insidente gekontak, maar hulle het volgens die inwoners nie opgedaag nie.
Volgens Danie Maart, een van die besorgde inwoners wat naby die spesifieke huis woon, is die huis 'n huurhuis en het die mense wat daar gewoon het getrek.
"Ons het nie geweet wanneer die nuwe mense daar sou intrek nie en of dit sou gebeur nie. Ek het 'n man gevang wat die wasbak probeer steel het. Toe ek hom betrap het, het hy die wasbak neergegooi en gehardloop. Hy het later teruggegaan om die wasbak te gaan haal en het heel rustig met die wasbak geloop. Feitlik alles is gesteel. Die skakelaars, gloeilampe en kragdrade is uit die mure gesteel. Daar is vuur in die huis gemaak. Die mangat in die plafon is uitgehaal om die drade in die dak te steel. Dit baat nie om die polisie te bel nie, want hulle daag net eenvoudig nie op nie."
Met besoek aan die huis het Oudtshoorn Courant met die nuwe huurder gesels.
Volgens hom kon hy weens die toestand van die huis nog nie daar intrek nie.
"Die hele huis moet basies oorgedoen word. Die bedrading, ligte alles. Ek het met die eienaar van die huis gesels en hy weet van als wat aangaan. Tot ons die huis leefbaar kan kry het ons iemand gekry om tydelik die huis op te pas, veral in die aande en tydens beurtkrag."
Volgens die man het hy en die man wat die huis oppas 'n booswig op 31 Julie op heterdaad betrap wat die munisipale kragdrade van die kragpaal tot by die huis afgesteel het.
"Ons het om 08:54 die polisie gebel en meer as 'n uur gewag en hulle het steeds nie opgedaag nie. Ons het toe maar die man laat gaan."
Die nuwe huurder het die week aan die koerant gesê dat die inbrake voortgaan en dat daar steeds geen polisie was om met hulle te gesels of om klagtes te lê nie.
"Daar word nou omtrent elke aand ingebreek en Maandag-aand is die man wat die huis oppas binne die huis aangerand. Hulle het die splinternuwe kabels wat ons vir die huis gekoop het gesteel. Ons het met die aanranding ook die polisie gebel en hulle het net eenvoudig nie opgedaag nie."
Die eienaar, wat in Mosselbaai woon, het verlede week gesê dat hy bewus is van die voorvalle by die huis, maar dat daar steeds geen polisie was nie.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die Oudtshoorn-polisiebestuur het kennis geneem van die bewering oor 'n gebrek aan dienslewering en dit word as ernstig beskou.
"Die veiligheid van inwoners en hul eiendom is belangrik. Lede van die publiek moet te alle tye kontak maak met hul polisiestasie. Ons versoek die klaer om die Sektor 3-bevelvoerder by 082 821 1027 te kontak sodat die saak opgelos kan word."
Volgens Spies moet eienaars van eiendom maatreëls tref om die perseel te beveilig.
"Ten slotte, die polisie bly daartoe verbind om 'n verantwoordelike en doeltreffende diens van hoë gehalte te lewer wat toeganklik is vir elke persoon en streef voortdurend daarna om hierdie diens te verbeter. Ons verwelkom altyd terugvoer van die publiek, veral oor hoe hulle die diens van hul polisie ervaar. Stasiebestuur doen 'n beroep op inwoners om diensverwante kwessies onmiddellik by die skofbevelvoerder, by 079 893 9968 aan te meld."
Van die booswigte het van die huis se agterstoep 'n slaapplek gemaak.
Die kragdrade is vanaf die munisipale kragpaal tot by die huis afgesteel.
Die bad is geplunder.
Die kombuis se opwasbak is ook uitgesteel en die kassie se deure is verwyder. Foto's: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’