OUDTSHOORN NUUS - Daar blyk hoop te wees vir die herstel van slaggate in Oudtshoorn.
Burgemeester Chris Macpherson het die week, tydens 'n mediakonferensie gesê dat Sanral (Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap), by die herstel van slaggate betrokke gaan raak.
Volgens hom het die provinsie net R127 000 aan die Oudtshoorn-munisipaliteit vir slaggate bewillig en het hulle reeds die geld spandeer.
"Om al die slaggate te herstel gaan 'n paar honderd miljoen kos. Ons het dit eenvoudig nie in ons begroting nie."
Volgens hom het Sanral 'n Operation Vala Zonke in die lewe geroep om munisipaliteite behulpsaam te wees met die herstel van slaggate. Oudtshoorn-munisipaliteit het reeds op 11 September geregistreer om deel te wees van die projek. Die munisipaliteit is tans besig met ‘n fisiese opname van alle slaggate wat dan aan Sanral deurgegee word. Die munisipaliteit is ook besig om met Sanral ooreen te kom op welke wyse befondsing sal geskied. Intussen gebruik die munisipaliteit fondse uit kapitaalprojekte om noodherstelwerk te doen.
Volgens hom sal daar ook eers aan hoofpaaie en kruisings aandag gegee word voordat hulle hul fokus na woonbuurte gaan skuif.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’