OUDTSHOORN NUUS - Die George-hooggeregshof het gister, 19 April, beslis dat die huidige Saamstaan Suid-Afrika-raadslid en voormalige onderburgemeester in die Oudtshoorn-munisipaliteit, Mlandeli Nyuka, deur die party se onderleier, Schapiro Michaels, vervang moet word.
Agtergrond
Suid-Kaap Saamstaan Party, soos Michaels se faksie steeds bekendstaan, ondanks die feit dat Nyuka se faksie dit vanjaar na Saamstaan Suid-Afrika verander het, het verlede jaar die verkiesingshof genader om Nyuka as die party se aangewese OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie korrespondent) te vervang.
Nyuka se lidmaatskap is in April verlede jaar deur Suid-Kaap Saamstaan beëindig - hy is ook toe in 'n interne verhoor skuldig bevind aan verskeie klagtes wat die vervalsing van dokumente insluit.
Die verkiesingshof het egter Nyuka se verwydering as aangewese OVK-korrespondent ter syde gestel waarna Suid-Kaap Saamstaan appèl aangeteken het. Suid-Kaap Saamstaan se regsbeampte, Hans Malgas, het toe alreeds volgehou dat die hof nie beslis het oor Nyuka se verwydering uit die party en sy posisie in die munisipale raad nie, en dat dit nog steeds van krag is.
Gister se hofverrigtinge
Advokaat Lotz, aangestel deur Liesel Scholtz Prokureurs, het regter Nobahle Mangcu-Lockwood versoek om die saak uit te stel.
Advokaat Stephan Kleynhans, wat vir Michaels en Suid-Kaap Saamstaan verteenwoordig, het kapsie gemaak en gesê Nyuka is sedert verlede jaar in die gevangenis en dat die party op hierdie stadium geen stemregte in die Oudtshoorn-munisipaliteit het nie.
Kleynhans het gesê Nyuka se regspan het maande tyd gehad om voor te berei vir die hofsaak. Hy het voorts ook Nyuka se regspan van vertragingstaktiek beskuldig en gesê dat die arme bevolking in Oudtshoorn daaronder ly omdat die hof nie 'n beslissing kan maak nie. Regter Mangcu-Lockwood het Lotz se versoek tot uitstel met minagting verwerp en gesê Nyuka se regspan het meer as genoeg tyd gehad om hulle papierwerk gereed te kry. Sy het spesifiek verwys na die uitstaande answering affidavit. Die regter het prokureur Liesel Scholtz gewaarsku dat sy haar nie met vae verskonings aan meineed moet skuldig maak nie. Suid-Kaap Saamstaan se aansoek is met koste toegestaan wat beteken dat Nyuka ook verantwoordelik is vir al hulle regskostes.
Implikasies vir Oudtshoorn-munisipale raad
Volgens Suid-Kaap Saamstaan word die party nie op die oomblik in die Oudtshoorn-munisipale raad verteenwoordig nie en is Saamstaan ook nie deel van enige koalisie nie omdat Nyuka se posisie as raadslid reg van die begin af onwettig was. Die party is dit eens dat sy uitvoerende bestuur binnekort gaan vergader om 'n raadslid aan te wys.
"Ons gaan nie probeer regeer soos Nyuka "in die land van die blindes waarin eenoog koning is" spreekwoordelik gedoen het nie. Politieke partye is demokratiese instellings en moet so opereer," het Malgas gesê.
Die DA bestaan tans uit 13 setels teenoor die 12 van die ANC. Indien Michaels sou besluit om hom by die ANC-alliansie te skaar sal dit teweegbring dat die DA nie meer beheer oor die groter Oudtshoorn-distrik sal hê nie. Oudtshoorn sal dus weereens deur die ANC-alliansie regeer word soos onlangse periode November 2021 tot Junie 2022.
Stephen Kleynhans Regs: Advokaat Lotz en prokueur Liesel Scholtz Regs onder: Regter Nobahle Mangcu-Lockwood. Die skermgreep is tydens gister se hofverrigtinge geneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’