Die saak is egter deur landdros Johan Steynberg tot 20 Februarie uitgestel sonder dat die twee offisiere in die hof was. Hulle was na bewering by 'n parade in Pretoria.
Een van die offisiere het in Mei verlede jaar twee pelotonne na die Oudtshoorn-polisiestasie ontplooi en gedreig dat hulle die polisiekantoor gaan verwoes.
'n Groep weermaglede is daardie aand deur die polisie in hegtenis geneem na 'n klopjag op Kola's Carwash. Verskeie bronne, wat verkies het om anoniem te bly, het beweer dat 'n weermag-generaal wat in Oudtshoorn kom kuier het vir die uitpassering erg ontevrede was met die arrestasie van die weermaglede.
Die generaal het na bewering twee pelotonne van sowat 60 mense elk na die polisiestasie ontplooi en daarop aangedring dat die weermaglede vrygelaat moet word. Daar word verder beweer dat dié pelotonne met R5-gewere by die polisiestasie opgedaag het. Die weermaglede is daarna laat gaan sonder dat daar klagtes teen hulle ingedien is.
Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar berig dat mnr. Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weermag, gesê het dat brig. Xolani Mankayi, kol. Nkhabu Nthejane en lt.kol. Siphiwo Mphahlawa reeds op 17 November by die militêre hof aangekla is.
Die is egter net Mankayi en Nthejane wat in die Oudsthoorn-landdroshof verskyn.