Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Gert Beneke (65), 'n grondeienaar van Volmoed, wat na bewering 'n man met sy bakkie omgery en daarna op die man se vrou en ander mense geskiet het, is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof van die hofrol verwyder.
Beneke word van poging tot moord aangekla en is vroeër borgtog van R5 000 toegestaan.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, het die hof meegedeel dat die ondersoek nog nie voltooi is nie en dat daar onder meer op ballistiese verslae gewag word.
Beneke se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof versoek dat die saak van die hofrol verwyder word.
Landdros Theo-lin November wat ook die borgtog aan Benecke toegestaan het, het Beneke meegedeel dat dit voorlopig 'n tydelike verwydering is en die saak weer op die hofrol teruggeplaas kan word.
Die beweerde voorvalle het op Saterdag 10 Maart op Volmoed plaasgevind toe Beneke na bewering vir Pieter de Bruin omgery en daarna op sy vrou, Hester de Bruin, en nog mense wat oor sy plaas gestap het, geskiet het.
Lees 'n vorige artikel: Man in hof na skietvoorval
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'