OUDTSHOORN NUUS - Die aansoek van 'n man van Blomnek, De Rust, om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof van die hand gewys.
Die applikant, Mitchell Louw, is saam met Beuyolan Sauls op 13 Maart 2020 aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en onderskeidelik tot ses en vier jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hulle het op 19 Desember 2018 vir Ashral Stols met 'n mes gedreig en van R482,20 beroof terwyl hy in ‘n broodafleweringsvoertuig vir ‘n kollega gesit en wag het.
Sy kollega het die voorval gesien toe hy uit die winkel kom.
Louw se regshulpprokreur, Brian Carelse, het die hof gevra om sy laat aansoek te aanvaar omdat hy dit betyds by die gevangenisowerhede ingedien het en dit dus nie sy skuld is nie.
Louw voer in sy aansoek aan dat die landdros met sy skuldigbevinding fouteer het en ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing kan kom.
Volgens hom het die staatsgetuies mekaar weerspreek en het die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys nie.
Sy eie getuienis is ook nie deeglik deur die hof oorweeg nie.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die aansoek teengestaan.
Streeklanddros Ntsoki Moni het in haar uitspraak gesê dat sy die staatsgetuienis deeglik geëvalueer en betroubaar bevind het.
Die beskuldigdes het hul hande op al die geld wat hulle kon kry gesit.
Stols se kollega het alles gesien wat gebeur het en sy glo nie dat ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sal kom nie en Louw se aansoek van die hand gewys. Sauls het nie ‘n aansoek om te appelleer voor die hof gebring nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'