OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Dysselsdorp, wat aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is, is hierdie week in die Oudtshoorn-streekhof 10 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan vier jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Sarel Prins (27) is daaraan skuldig bevind dat hy op 2 November 2019 vir Mentoor Smit met 'n mes gedreig en van sy selfoon en R300 kontant beroof het.
Hy het onskuldig gepleit, maar sy weergawe is deur streeklanddros Sylvia Mandla verwerp.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê die howe moet vonnisse oplê wat verhoed dat gemeenskappe die reg in eie hande neem.
Sy het toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar.
Prins moet volgens haar tyd kry om in die gevangenis uit sy foute te leer en 'n nuwe blaadjie omslaan.
Hy is nie 'n eerste oortreder nie en is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'