OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu, Oudtshoorn, wat op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede en een van diefstal skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof 21 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan hy effektief tien jaar agter tralies sal moet deurbring.
Tshepo Jacobs (25) het op 22 Oktober 2019 'n man van sy selfoon en R600 kontant beroof deur hom met 'n kierie en mes te dreig en op 17 Februarie 2020, terwyl hy op borgtog was, 'n spazawinkeleienaar van R2 200 kontant beroof deur hom met 'n panga te dreig.
Hy is ook skuldig bevind op 'n aanklag van diefstal op 14 Februarie 2020.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê Jacobs is aan ernstige misdrywe skuldig bevind waarvoor die minimum voorgeskrewe vonnis vyftien jaar gevangenisstraf is.
Hy is onderskeidelik tot tien en agt jaar gevangenisstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir diefstal.
Die hof het beslis dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word vir 'n effektiewe vonnis van tien jaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'