DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen twee jong mans van Stolsvlakte wat daarvan aangekla word dat hulle 'n groente- en kruideniersware smous van Dysselsdorp met 'n piksteel geslaan en beroof het, is in die streekhof vir uitspraak tot volgende jaar uitgestel.
Gregory Koopman (20) en die Darren Lombaard (18) word daarvan aangekla dat hulle op 30 Junie 2017 vir Andrew Andries, wat hulle goed ken, aangerand en beroof het. Hulle staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede en pleit onskuldig.
Die twee verdagtes se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, vra vir hul vryspraak omdat daar geen getuienis voor die hof is wat tot hul skuldigbevinding kan lei nie. Die klaer is ook 'n enkelgetuie.
Staatsaanklaer Willem Vister verskil met die verdediging. Die klaer ken die twee goed omdat hulle voor hom grootgeword het. Die saak dien voor streeklanddros Ntisoki Moni wat dit aan Koopman en Lombaard gestel het dat hulle vyftien jaar tronkstraf in die gesig staar indien hulle skuldig bevind word.
Uitspraak is tot 29 Januarie 2020 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'