OUDTSHOORN NUUS - Voorvalle van roof in Oudtshoorn se middedorp, Unieplein en Checkers-parkeerarea het die afgelope maand toegeneem.
So het kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, die week in 'n verklaring gesê. "Die items wat gesteel word is meestal beursies met kontant en selfone."
Volgens hom is daar 'n paar eenvoudige wenke wat gevolg kan word om sulke voorvalle te voorkom. Visser sê dat inwoners en besoekers paraat moet wees en te alle tye bewus moet wees van hul omgewing.
"Moenie 'n selfoon gebruik terwyl jy in die dorp loop nie, jy sien en neem niks waar wat om jou aangaan nie. Moet ook nie alleen van 'n nagklub af huis toe loop nie. As jy in die dorp loop en gevaar opmerk gaan by 'n winkel in waar mense is en maak alarm."
Visser sê mense moet ook nooit 'n beursie ten aanskoue van die publiek uithaal tensy dit by 'n betaalpunt is nie. Hy waarsku ook om nie 'n OTM alleen in die aand te besoek nie.
"Ons vra dat die publiek bedag moet wees en kennis neem van die wenke. Niemand wil 'n slagoffer van misdaad wees nie en deur die wenke te volg kan jy die risiko verminder."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'