OUDTSHOORN NUUS - Munisipale wets-toepassing- en verkeersbeamptes het op 31 Januarie, tydens 'n klopjag, op twee donkies in Dysselsdorp en vier bokke in De Rust-omgewing, beslag gelê.
Hierdie operasie, wat gedryf word deur die wetstoepassingsafdeling van die munisipaliteit sal nou op 'n gereelde basis, nadat talle klagtes van die publiek oor rondloperdiere ontvang is, plaasvind.
'n Bekommerde inwoner van De Rust het in die begin van Januarie, ná die besige feesseisoen op die paaie, kontak met Oudtshoorn Courant gemaak om sy bekommernis te deel.
Hy het aangevoer dat daar gereeld bokke, skape, beeste en donkies in die pad en in die padreserwes loop.
Na wat afgelei kon word het hy al verskeie departemente binne die Oudtshoorn-munisipaliteit gekontak om die probleem aan te meld. Hy het selfs 'n skrywe aan Alan Winde, Wes-Kaapse premier gerig; wat hom na die nasionale departement van vervoer en openbare werke se verkeerswetstoepassingsafdeling verwys het.
Die inwoner, wat graag anoniem wil bly, vertel dat hy van bakboord na stuurboord gestuur is en dat Pat Jordaan, bestuurder van wetstoepassing en verkeer hom ingelig het dat die provinsiale verkeersbeamptes die munisipale diereskut bel wanneer diere langs die pad gevind word.
In die artikel, Losloperdiere al groter probleem in De Rust, verduidelik die inwoner dat die munisipaliteit die verantwoordelikheid vir die rondloperdiere op die provinsiale verkeer wil plaas omdat hulle die pad patrolleer, maar dat die pad binne die Oudtshoorn munisipale grense val en onder die verordenings van dié munisipaliteit neerkom.
Nadat die artikel, Losloperdiere al groter probleem in De Rust, op 20 Januarie aanlyn geplaas is, het 'n leser die volgende op Facebook te sê gehad: "Die diere is 'n helse probleem... hul beweeg ook in die dorp in en vreet al mens se plante op. Daar is reeds verlede jaar een van die perde doodgery deur 'n vragmotor in die nag. Ek kan nie dink dat mens nie kan eienaarskap vat oor jou diere nie."
As gevolg van die klagtes het die munisipaliteit 'n rondloperdiere-operasie van stapel gestuur en wetstoepassing- en verkeersbeamptes sowel as die diereskutpersoneel het alreeds die strate en paaie in die Groter Oudtshoorn gemonitor en tot op hede altesaam 17 bokke, twee donkies en vier skape gekonfiskeer. Die eienaars van die diere het ook vorendag gekom om die diere terug te eis en is 'n boete van R500 per dier opgelê. 'n Fooi per kilometer sal ook by die boete van R500 gevoeg word vanwaar die dier opgetel is tot by die diereskut.
Pat Jordaan, bestuurder van wetstoepassing en verkeer in Oudtshoorn het ook intussen die De Rust-inwoner gekontak en hom verseker dat daar op 'n gereelde basis op oortreders toegeslaan sal word.
Die publiek kan rondloperdiere by die beheerkamer aanmeld, 044 272 2363, 044 272 2377, 063 651 4675 en 063 651 4676, waarna wetstoepassers die diere sal konfiskeer.
Wat gebeur met diere wat gekonfiskeer word?
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit word diere wat gekonfiskeer word na die munisipale diereskut geneem.
Eienaars van die diere moet probeer om dadelik hulle diere terug te eis want hoe langer die dier by die skut bly, hoe meer sal die eienaar moet betaal om die dier terug te kry. Volgens Mle sluit hierdie kostes boetes, stoorfooie, vervoer en kos vir die diere in. Nadat die dier gekonfiskeer is, het die eienaar 21 dae om die dier terug te eis, waarna die dier dan op 'n veiling verkoop sal word. Die veilingsbesonderhede sal in die plaaslike koerant verskyn. Voor die veiling sal die eienaar nog steeds die kans hê om die diere terug te eis, inaggenome dat die eienaar vir alle kostes verantwoordelik sal wees.
Personeel beplan hoe om die volgende donkie op die wa te laai.
Die twee donkies is veilig op die wa en is daarna na die munisipale diereskut geneem. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'