Update
OUDTSHOORN NUUS - Die lewe eindig nie wanneer jy in 'n rolstoel is nie, maar jy moet ook die wil hê om die beste van jou situasie te maak.
So sê Rudy Lombard, 'n mondskilder, wat onlangs van George na Oudtshoorn verhuis het.
Lombard was op die ouderdom van 15 in 'n motorongeluk wat sy lewe onherroeplik verander het. Hy het beide sy ouers in die ongeluk verloor en ook 'n ernstige nekbesering opgedoen wat hom heeltemal verlam gelaat het.
Dit het hom egter nog nooit ondergekry nie.
"Ek is 'n kwadrupleeg en het net gedeeltelik gebruik van my linkerarm en my nek. Ek kon kies of ek myself gaan sit en bejammer oor my omstandighede, of ek kon iets daaraan doen. Ek het toe besluit om te leer om met my mond te skilder. Dit was 'n redelike proses om dit te bemeester en ek het van my skilderye na die Mond- en Voetskildersvereniging ingestuur en hulle het dit aanvaar. Ek werk ook vir hulle. Die vereniging doen ongelooflike werk en leer ook mense wat nie met hul hande kan werk nie om met hul mond en voete te skilder."
Lombard doen gereeld praatjies en demonstrasies waar hy veral kinders leer om met die mond te skilder.
Lombard sê om wildlewe te skilder was altyd sy gunsteling.
"Ek is mal oor realistiese skilderye. Die skildery moet 'n storie vertel as ek klaar is.
Die wildlewe het ongelooflike detail en ek was mal daaroor om dit te doen. Ek het dit ook vreeslik geniet om portrette van mense te doen. Sedert 2013 het ek bietjie probleme met my nek en sukkel ek met die detail en het ek oorgegaan na meer impressionistiese kunswerke. So deesdae fokus ek meer op landskappe."
Lombard sê sy gemoed speel ook 'n groot rol in dit wat hy skilder.
"Die dag wanneer ek effe bedruk voel skilder ek meer donker werke. Wanneer ek gelukkig is, is ek mal daaroor om kleurvolle werke te skilder. Veral jakarandas is my gunsteling."
Lombard se kunswerke is deesdae meer kleurvol en het baie te doen met sy vrou, Katrien, met wie hy Saterdag 25 September getrou het.
Rudy Lombard en sy vrou, Katrien, op hul troudag saam met Liza Stroebel wat hulle getrou het.
Hy het Katrien, 'n ruk gelede ontmoet toe hy vir verblyf gesoek het. Sy is ook in 'n rolstoel na sy ongeveer drie jaar gelede in 'n motorongeluk was. Voor haar ongeluk was sy in spyseniering betrokke en hoop om binnekort weer te begin.
"Ons is absoluut gemaak vir mekaar," het Lombard gesê.
Volgens hom wil hy graag ander persone in dieselfde omstandighede bemoedig.
"Mense moenie opgee net omdat hulle in 'n rolstoel is nie. Die lewe gaan aan en daar is so baie wat mens nog kan doen."
Vir meer inligting kontak Lombard by 084 606 1967 of kwads1967@gmail.com
Van sy skilderye wat hy gemaak het:
Vorige artikel: Mondskilder laat hom nie onderkry nie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'