Update
LADISMITH NUUS - "Hy was nie net julle afrigter nie, hy was ook julle pa, hy het julle vermaan waar hy gedink het julle dit nodig gehad het. Hy was nie net my evangelis nie, hy was my geestelike broer op wie se steun ek altyd kon staatmaak."
So het Jessica Fuller aan lede van Young Blood FC-sokkerspan van Ladismith en roubeklaers tydens die roudiens vir Moos Fortuin, bekende sokkerafrigter, in die Community Faith Ministry Church in Ladismith gesê.
Fortuin, wat twee weke gelede wreed gesterf het in 'n ongeluk by sy werk, was ook 'n evangelis verbonde aan hierdie gemeente. David Opperman het Fortuin beskryf as 'n fenomenale persoon, wie se hoop op Christus gevestig was.
Hy het aan die bedroefde Fortuin-gesin gesê dat, alhoewel hulle nou treur, hulle daarvan seker kan wees dat hulle pa en eggenoot nou by sy Hemelse Vader is.
Martin Ambrose het gesê dat God 'n pragtige boom kom haal het.
"René en die kinders, al voel julle nou alleen, weet dat ons God altyd eerste in sy lewe gestel het, en dat God julle weer sal heel maak."
Die begrafnisdiens vir Fortuin vind Saterdag 20 Januarie om 10:00 te Sedgefield plaas en hy sal in Karatara te ruste gelê word.
Lees vorige berig hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’