Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS & VIDE - Oudtshoorniete is gisteroggend begroet deur bome, heinings en traliewerk wat getooi is in kleurvolle gehekelde en gebreide skeppings.
Die kleur reWOLusie is ’n inisiatief van die Ek is Oudtshoorn-projek en die dorp se bydrae tot ‘n kleurvolle fees. Dié see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die “woltannies” wat Oudtshoorn se strate na sononder ingevaar het met lere en meters en meters brei- en hekelwerk.
’n Plaaslike kunstenaar Madeleine Miles het dié konsep uitgedink. Sy sê die idee was om die gemeenskap by die KKNK te betrek. “Dit is belangrik vir Kunste Onbeperk dat Oudtshoorniete besef dat hulle 'n bydrae kan lewer en deel kan wees van die fees. Dit is ons mense se fees en ek dink sommige inwoners het dit tot ’n mate vergeet. Ek self is verslaaf aan hekel en het gedink die “yarnbomb” konsep kan uitstekend werk”, sê Miles.
Die Oudtshoorn Besigheidskamer en Kunste Onbeperk het 1 600 bolle wol geskenk met plaaslike besighede wat ook skenkings gemaak het. Party “woltannies” het selfs in hulle eie voorraad ingedelf.
“Daar is gewikkel met al daardie wol – laatmiddag het die “woltannies” soos my kinders hulle gedoop het, kom wol haal en daar was gereeld versoeke vir nog voorraad. Dit was vir my so lekker om te sien hoe die “woltannies” gewoeker het en hulle het gereeld vir my foto’s aangestuur om te wys hoe hulle handewerk vorder,” voeg Miles by.
Kyk 'n video hieronder.
Die Oudtshoorn Besigheidskamer en Kunste Onbeperk het 1 600 bolle wol geskenk met plaaslike besighede wat ook skenkings gemaak het.
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk sê die reWOLusie is ’n belewenis. “Dit is werklik ‘n riem onder die hart om die passie en ywer waarmee almal ingespring het te beleef. Dit was wonderlik om te sien hoe die inwoners met oorgawe deelgeneem het en met reWOLusie deel geword het van die fees. Dit is een van die inisiatiewe en projekte wat Oudtshoorniete instaat stel om ook betrokke te raak en die KKNK as hulle fees te eien”, sê Theart.
Die Oudtshoorn Besigheidskamer en Kunste Onbeperk het 1 600 bolle wol geskenk met plaaslike besighede wat ook skenkings gemaak het. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'