Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Brandstigter wat Sondagoggend omstreeks 01:00 voerbale in drie afsonderlike skure aan die brand gesteek het, het 'n verlies aan voer van bykans R2 miljoen veroorsaak.
Volgens Joey Potgieter wat saam met sy broer, Dirkie, tussen Oudtshoorn en Calitzdorp boer, is hulle 99% seker van die identiteit van die brandstigter.
Volgens hom het die persoon eers een skuur se bale aan die brand gesteek en ongeveer 40 minute later toegeslaan op nog twee skure sowat 1,5 km van die eerste een.
By die tweede perseel was die brand baie naby aan 'n stoor met masjinerie. Volgens Potgieter kon hulle met behulp van die brandweer die brandende bale onder die skuur uitstoot om te verhoed dat die ander geboue vlamvat. 'n Polisievoertuig wat op patrollie was het die brand opgemerk en die Potgieters daarvan verwittig en die brandweer ontbied.
"Verskeie van ons werkers en mense wat in die omgewing bly, het die man Sondagnag gesien. Hy het 'n lang kriminele rekord en was een van die gevangenes wat met Covid deur die president vrygelaat is.
"Kort na sy vrylating is sy vingerafdrukke aan drie nuwe inbrake gekoppel en, terwyl ons gespook het om die vlamme te blus, het hy by buitegeboue op ons plaas probeer inbreek."
Teen Woensdag was die verdagte nog nie opgespoor nie, maar volgens Potgieter is dit net 'n kwessie van tyd.
Die DA het Maandag 'n persverklaring uitgereik waarin die DA se adjunk-skaduminister van polisie, Ockie Terblanche, sê die voorval is deur die DA by die Wes-Kaapse kommissaris van polisie aangemeld nadat die polisie glo nie voorkomend opgetree het nadat klagtes van verdagte bedrywighede deur Joey Potgieter aangemeld is nie.
Dit is nie heeltemal duidelik wat hiermee bedoel word nie, aangesien die persoon wat van die brandstigting verdink word, reeds verskeie kere in hegtenis geneem is en ook skuldig bevind is.
Hy is egter onlangs as deel van die staat se pogings om tronke tydens Covid-19 leër te maak, vrygelaat.
Dit was ook die polisie wat Sondagoggend vroeg tydens 'n gereelde plaaspatrollie, die brand opgemerk en alarm gemaak het.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-polisie gestuur om te verneem of hulle wel klagtes oor verdagte optredes ontvang het, wat nie opgevolg was nie. Teen druktyd was geen antwoord ontvang nie.
Die inhoud van een van die skure in ligte laaie nadat 'n brandstigter dit die naweek aan die brand gesteek het. Foto: Joey Potgieter
Vorige artikel: Reuseskade na brandstigting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'