OUDTSHOORN NUUS - Hoewel 'n groot deel van die land erge skade weens die swaar reëns gehad het, het die Klein-Karoo relatief lig daarvan afgekom.
Teen Woensdagoggend was Meiringspoort steeds vir verkeer gesluit terwyl opruimingswerk aan die gang was.
FOTOGALERY: Skade weens die swaar reën in die Klein-Karoo
Die groep van 72 skoolkinders van Laerskool Aliwal-Noord, asook 10 volwassenes, wat Dinsdag nog by Cango Mountain Resort gestrand was weens die swaar reën is Woensdagoggend na veiligheid geneem.
Luidens 'n verklaring wat die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik het, het die stortreën veroorsaak dat die Le Rouxrivier, wat deur die hartjie van die Cango Mountain Resort loop, oorgeloop het en hulle op die perseel vasgekeer was.
'n Noodhelikopter het Dinsdagaand kos en ander benodigdhede vir die leerders en volwassenes geneem.
"Gelukkig was daar geen ongevalle nie; beide kinders en volwassenes is in goeie gesondheid, maar hulle kan tydelik nie die oord verlaat nie. Ons spreek ons diepe waardering uit vir die vinnige en gekoördineerde pogings van alle betrokkenes, veral die helikopterbemanning."
Die massa water wat uit die Raubenheimerdam se oorloop loop, loop deur Cango Mountain Resort en 'n entjie verder sluit die water aan by Grobbelaarsrivier wat ook sterk loop. Dit het veroorsaak dat al die laagwaterbruggies in die dorp oorstroom.
Damvlakke
Die Raubenheimerdam is tans 100% vol. Volgens inligting van die Stompdrift- en Kammanassie-watergebruikersvereniging (SKWGV) is die Kamanassiedam 79% vol en is die invloei by die dam tans 520 kusek. Dié dam het in 2015 laas oorgeloop. Die Melvilledam is ook 100% vol. Die Stompdriftdam is tans bykans 38% vol. Calitzdorp se dam loop ook oor.
Reënval
Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit het dit 60mm by die Raubenheimerdam gereën en 20mm binne in die dorp.
Agri Klein Karoo se reënvalsyfers is as volg:
- Gamka Langverwacht 10mm
- Tussen De Rust en omgewing 7 tot 11mm
- Waboomskraal 200mm
- Herold 110mm
- Heimersrivier 50mm
- Langverwacht 38mm
- Gamka 42 mm
Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’