OUDTSHOORN NUUS - Laubscher Coetzee, voorsitter van Agri Klein-Karoo, het die afgelope naweek se reën as 'manna uit die hemel', beskryf.
"Ons het verlede jaar ook goeie reën gehad, en ek het gedink hier is ons nou oor die droogte, maar dit was van korte duur. Ek hoop werklik dat hierdie seisoen anders gaan wees."
Volgens Coetzee het jy ten minste drie jaar se agtereenvolgende reën nodig om die herstel in Oudtshoorn se landbou te kan sien. Hy sê ook dat die reënval basies oral dieselfde gemeet het, met die uitsondering van 'n paar millimeter hier en daar.
Coetzee vertel dat daar nie werklik groot skade is wat aangemeld is nie, maar dat sommige boere se leiwatervore beskadig is. "Die takriviere loop nou lekker, en dis van kardinale belang vir ons besproeiingskema. As die berge reën kry, dan hou die takriviere se water gewoonlik baie goed."
Volgens hom het daar 'n kentering in die klimaat ontstaan en voorspel hy dat daar 'n paar goeie jare voorlê.
Omvang van skade en reënval
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, en 'n senior amptenaar, het Sondag na die reënval 'n evaluasie in Oudtshoorn gedoen om te kyk wat die omvang van skade was wat die reën meegebring het. Hy vertel dat hy opgewonde is oor die goeie reënbui omdat ons streek dit broodnodig het, maar dat die reën ook skade aan mense se wonings veroorsaak het.
"Tegnici en werkers is steeds besig met herstelwerk na die afgelope twee dae se reën," vertel hy.
Willie Fourie, bestuurder: Kammanassie- en Stompdriftdam het gesê dat die reën geringe skade aan die waterkanale veroorsaak het en dat dit eers herstel sal moet word alvorens die damsluise weer oopgemaak kan word.
Fourie het ook op 7 Maart bevestig dat die Stompdriftdam op 35,71% en die Kammanassiedam op 8,71% kapasiteit staan.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van Oudtshoorn-munisipaliteit, het Raubenheimerdam se vlak van 69,7% na 75,15% gestyg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'