OUDTSHOORN NUUS - Hoewel ernstige skade deur Maandag se reën in groot dele van die dorp aangerig is, was dit uitstekende nuus vir boere.
Inwoners van Oudtshoorn het Maandag, veral aan die noordelike kant van die dorp, meer as 100 mm reën gemeet.
Laubscher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap, het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die plase rondom die dorp nie veel reën gehad het nie.
"Die dorp het 'n kitsvloed ervaar. Op my plaas, ongeveer 10 km buite die dorp soos die kraai vlieg, het ek net 10 mm gemeet, maar dit is definitief nie iets om oor te kla nie. Inteendeel, die boere juig!"
Volgens hom het dit in die berge baie gereën en is daar op party plekke tot 120 mm gemeet. Dit het veroorsaak dat die water in die takriviere, soos die Kandelaars- en Grobbelaarsrivier wat na die Olifantsrivier vloei, 'n slag weer ordentlik loop en kan boere weer water lei.
"Baie boere het leë landerye omdat daar nie genoeg reënval in die winter was om die rivier te laat loop vir leiwater nie. Die kitsvloed het veroorsaak dat die boere weer hul landerye kan natlei."
Twee kinders, wat in Hoogstraat woon, maak die beste van 'n slegte situasie.
Volgens hom is dit die beste reën wat in die afgelope vyf tot ses jaar in Oudtshoorn geval het.
FOTOGALERYE:
"Die droogte is egter nog nie gebreek nie, maar met die seisoene wat besig is om te verander en die meer gereelde reën wat val is daar goeie vooruitsigte vir die boere."
Die damvlak van die Raubenheimerdam het Dinsdag op 72% gelê en die Melvilledam is 100% vol. Na 14 mm reën geval het. Dit is egter nog nie duidelik hoeveel reën in die opvangsgebied geval het nie, omdat die pad nog onbegaanbaar vir voertuie is.
Skade in die dorp
Verskeie huise en besighede in die dorp het groot skade weens die kitsvloede gehad.
Hlangana Lodge, op die hoek van Noord- en Baron van Reedestraat se grensmuur het omgeval, en die water het stukke teer in Noordstraat gelig wat beteken het dat die pad vir verkeer gesluit is.
Die grensmuur van House Victoria op die hoek van Baron van Reede- en Victoriastraat het verspoel.
House Victoria, op die hoek van Baron van Reede- en Victoriastraat se grensmuur met palissadeheining het ook omgeval.
Verskeie inwoners se huise was ook onder water. Die strate met laagwaterbruggies was ook gesluit na die rivier oor die bruggies gestroom het. Die weerburo het intussen weer 'n waarskuwing uitgestuur vir nog swaar reën wat oor die naweek verwag word.
Groot waterskade op die hoek van Noord- en Baron van Reedestraat.
Die palisadeheining van die weermagbasis het verspoel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'