Update
OUDTSHOORN NUUS - Die speaker van Oudtshoorn, Julia le Roux, se twee pogings om 'n gewone raadsvergadering te hou is verlede Vrydag en weer Dinsdag deur ontstoke inwoners in die wiele gery.
Die gewone maandelikse raadsvergadering van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat verlede Vrydag om 10:00 begin het, het in chaos geëindig toe die speaker dit verdaag het omdat 'n lid van haar party 'n dokument oor 'n beplande nuwe behuisingsprojek, waaroor inwoners ongelukkig is, wou bekend maak.
Die groot aantal vroue, almal lede van die Agterplaasbewonersbeweging, wat die publieke galery vol gesit het, was ongelukkig hieroor en het geweier dat die speaker die raadsaal verlaat.
Die vroue was in opstand oor beweerde planne van die munisipaliteit om 4 500 huise in die Spekkop-omgewing, tussen die begraafplaas en die huidige stortingsterrein, te bou en gedreunsing, "Weg met Spekkop, Weg met Spekkop". Hulle dring daarop aan dat huise aan die westekant van die dorp gebou word.
DA-raadslid Henry Human, het afskrifte van 'n dokument oor die beplande behuisingsprojek uit sy tas gehaal wat deur Icosa-raadslid, Vlancio Donson, by hom geneem en aan raadslede begin uitdeel het. Die speaker het hierna die vergadering verdaag waarna chaos losgebars het.
Tweede poging
'n Tweede poging om 'n raadsvergadering te hou is Dinsdagoggend om 09:00 aangewend, maar chaos het weereens in die volgepakte publieke galery losgebars. Pogings om 'n mediaverklaring oor die huidige behuisingsplan voor te lees het nie gerealiseer nie.
Oudtshoorn se DA-parlementslid, Eleanor Bouw-Spies was ook in die publieke galery en het aan die inwoners verduidelik dat hulle nie die raadsvergadering kan gebruik om hulle griewe te lug nie. Na 'n koukusbreuk van ongeveer 15 minute het die vergadering voortgegaan en Jevan Juthe, raadslid vir Sarco, het daarop gewys dat daar reeds in 2013 'n raadsbesluit was, waarvolgens daar geen ontwikkeling by Spekkop sou plaasvind nie, maar daar eerder na ander opsies gekyk sou word om die gemeenskap van Oudtshoorn te integreer.
Eleanor-Bouw-Spies, LP vir Oudtshoorn, praat met gemeenskapslede tydens Dinsdag se raadsvergadering. Foto: Hannes Visser
Die mense in die publieke galery was skaars rustig toe 'n ANC-raadslid beweer dat 'n senior munisipale amptenaar haar beledig het. Hierna het woordewisselings weer uitgebreek en inwoners het vanuit die publieke galery op die speaker begin skreeu.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het die mense gevra om te bedaar, maar die speaker het toe reeds besluit dat die res van die vergadering in komitee sou plaasvind.
Daar is tans groot onsekerheid onder inwoners rakende die situasie in die munisipaliteit nadat twee senior amptenare verlede week bedank het en gerugte die ronde begin doen het dat die munisipale bestuurder ook keelvol vir die raad se streke is en op die punt staan om sy goed te pak.
'n Navraag oor hierdie aangeleentheid is nog nie deur die munisipaliteit beantwoord nie.
Lees 'n vorige arikel: Terugvoering na koukus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'