OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se inwoners is in rep en roer oor ‘n koerantberig in die Weekend Argus waarvolgens ‘n gewone raadslid in Oudtshoorn glo vir ongeveer 18 maande byna dubbel sy salaris ontvang het.
Hy is glo verkeerdelik betaal as ‘n lid van die burgmeesterskomitee terwyl hy ‘n gewone raadslid se salaris moes ontvang.
Volgens die berig het die DA raadslid, Marcelis Theyse, sedert hy in Mei 2018 in ‘n tussenverkiesing raadslid van Wyk 13 geword het, maandeliks hopeloos te veel geld vir sy pos ontvang.
Daar was ‘n tussenverkiesing na die dood van raadslid Pieter Luiters.
Volgens die berig in die Weekend Argus, verdien ‘n gewone raadslid ongeveer R20 000 per maand en die vyf burgemeesterskomiteelede ongeveer R40 000. ‘n Navraag is vanoggend aan die munisipaliteit gestuur met verskeie vrae rondom die fout.
Daar is onder andere gevra wat die presiese salarisse is, hoe die geld weer teruggekry gaan word, wie verantwoordelik is vir die maandelikse betalings en of sekere mense op die raad, soos wat daar in gerugte beweer word, bewus was van die oorbetaling.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'