OUDTSHOORN NUUS - Die ANC-raadslid, Klasie Windvogel (60) is verlede Woensdag, 7 April, na 'n lang siekbed oorlede.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het Vrydag in 'n verklaring gesê Windvogel is om ongeveer 17:30 in die Mediclinic Klein Karoo oorlede.
Hy was sedert 2016 'n proporsionele raadslid van die ANC op Oudtshoorn sowel as op die distriksmunisipaliteit se rade.
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, het Windvogel as 'n "gentleman" beskryf wat deur die ANC en raadslede van Oudtshoorn gerespekteer is.
"Ons is hartseer oor die verlies van 'n kollega van daardie kaliber en hy sal onthou word as 'n heer en 'n uitstaande leier met wye ondervinding in plaaslike regering. Sy bydraes tot die raad is altyd hoog op prys gestel."
Volgens Ntobeko Mangqwngqwe, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, was Windvogel reeds sedert 1993 by plaaslike regering betrokke toe hy 'n lid was van die transfomasieforum in Dysselsdorp. Hy was in 1995 een van die eerste sogenaamde transformasieraadslede en het op die transformasieraad van Dysselsdorp gedien totdat dit in 2000 met plaaslike rade saamgesmelt het.
Windvogel was tot 2006 'n raadslid van Oudtshoorn waarna hy by verskeie gemeenskapsinisiatiewe betrokke geraak het. Hy het weer na plaaslike regering teruggekeer toe hy in 2016 as ANC-raadslid ingesweer is.
Oudtshoorn-speaker, Julie le Roux-Krowitz, het gesê dat Windvogel ten spyte van hulle politieke verskille altyd 'n ware heer was en op kwessies eerder as op persoonlike verskille gefokus het. "Ek het groot waardering vir die kalm wyse waarop hy vergaderings en moeilike situasies benader het en gaan sy teenwoordigheid werklik mis."
Hendrik Botha, hoofsweep van die DA, het gesê Windvogel se heengaan is 'n groot verlies vir die gemeenskap.
Die hoofsweep van die ANC, Jongilizwe Tyatya, het dié party se skok en hartseer oor die dood van Windvogel uitgespreek. Hy het gesê Windvogel was 'n kameraad en 'n goeie vriend van 'n groot aantal mense.
"A high level of dedication and commitment in the fight for poor people is what he always portrayed and fought for. In politics of our region in realization of comradeship and true leadership. On behalf of the African National Congress, I convey heartfelt condolences to the entire membership of the ANC, to his wife, children and all other members of his family."
Windvogel word oorleef deur sy vrou, Caroline, sy vier dogters, twee stiefkinders en ses kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'