Die Cope-lid, John Maxim, het nie verlede Vrydagoggend sy stoel ingeneem nie. Speaker, John Stoffels, het aan die raad gerapporteer dat hy die laaste skrywe van Maxim se party op 9 November ontvang het, waarin bevestig word dat Cope nie meer vir Maxim as `n verteenwoordiger van die party beskou nie.
Dit blyk egter dat Maxim hierdie besluit teëstaan. Vrydagoggend het dit egter beteken dat 12 DA/Cope-alliansielede stelling moes inneem teenoor die ANC/NPP/Icosa-alliansie, met elke gelykop-stemming wat deur die speaker na die regerende koalisie geswaai is.
Dit blyk ook dat Andries Nel, nasionale adjunkminister samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA), die dorp onlangs besoek het. Dit kon nie bevestig word of Nel se besoek verband hou met sprake die afgelope paar weke dat die raad moontlik onder administrasie geplaas mag word nie.
SOE-verslag
Voor die talle punte op die agenda bespreek kon word, het die burgemeester, Gordon April, gesê dat die SOE-verslag tans as vertroulik beskou word met die name van amptenare wat daarin verskyn. Volgens April word die verslag nog bestudeer en sal dit by die volgende vergadering voorgelê word.
Finansies
Die finansiële state vir Mei en Junie 2014 (einde van die vorige boekjaar) sowel as Julie en Augustus 2014 is vir goedkeuring deur die raad voorgelê.
Die mosie is deur die DA-alliansie teengestaan. DA-lid, Chris McPherson, het hom tydens die raadsvergadering sterk uitgespreek oor "kommerwekkende" verskynsels. Volgens McPherson word geen verslae oor enige aanvullende begroting gegee nie en word geen verslag gelewer oor die terugvordering van "ongemagtigde en vrugtelose uitgawes" nie. Volgens McPherson is daar ook rede tot kommer oor kontantvloei-tekorte en word die begroting deur die DA as onwettig beskou.
In antwoord het die speaker gesê dat hy hom nie gaan uitlaat oor `n saak wat in die hof moet dien nie.
Nuwe aanstellings
Die DA se Wessie van der Westhuizen het aanvanklik sy kommer uitgespreek oor die pro-ses om `n nuwe munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte en direkteur: tegniese dienste aan te stel aangesien die tydsverloop soos deur betrokke wetgewing voorgeskryf word, reeds oorskry is. Daar is egter besluit dat die proses sal voortgaan met Van der Westhuizen wat die DA/Dope-alliansie op die aanstellingskomitee sal verteenwoordig. Volgens McPherson is die besluit geneem om eerder met die proses voort te gaan ten einde tyd te bespaar en verdere uitgawes en te verhinder.
Sonkragaanleg
Die beoogde sonkragaanleg, naby Dysselsdorp, word allerweë beskou as `n nodige eko-nomiese inspuiting en sal ook die druk op die bestaande kragnetwerk verlig. Die besluit om met die projek voort te gaan is Vrydagoggend eenparig goedgekeur. Dit blyk egter dat verdere ondersoek ingestel mag word oor die ligging van die projek aangesien dit tans op privaat grond beoog word.
Vliegskool
Die raad het ook `n huurkontrak met die AVIC internasionale vliegskool goedgekeur vir die huur en bestuur van sekere gedeeltes van die vliegveld. Daar is ook voorgestel dat burgemeester, vergesel deur betrokke amptenare, besoek aan die vliegskool bring.
Raadslede stem tydens `n spesiale raadsvergadering, verlede Vrydag, die eerste in etlike maande.
ARTIKEL EN FOTO: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'