OUDTSHOORN NUUS - Met die munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplanvergaderings wat in al 13 Oudtshoorn se munisipale wyke aan die gang is, het raadslid Eva Fortuin namens die raad Oudtshoorniete die versekering gegee dat raadslede en amptenare slegs die waarheid sal praat in hul terugvoer en antwoorde op vrae.
Die vergaderings het Maandag 9 Oktober begin en duur tot Maandag 30 Oktober.
Allen Paulse, die munisipale bestuurder het tydens Dinsdag se wyk 2-vergadering gesê: "Oudtshoorn is onlosmaaklik verbind aan sy vermoë om finansieel te herstel. Alles wat op die onderskeie wyke se geïntegreerde ontwikkelingsplanne gelys is, is nie haalbaar nie."
Paulse het Oudtshoorniete ingelig dat die munisipaliteit einde Oktober die laaste van R52 miljoen se Eskom-skuld sal vereffen. "Ons is ook besig om uit die R110 miljoen se skuld wat ons geërf het, los te kom."
Hy het die verskillende wyke se dienste behoef-tes as baie verskillend beskryf, maar toerisme as 'n finansiële hulpbron om herstelwerk aan infrastruktuur in Oudtshoorn te doen, beklemtoon.
"Die impak van geld wat uit die Kango-grotte en KKNK gegenereer word kan nie onderbeklemtoon word as 'n finansiële hulpbron om herstelwerk aan die dorp te doen nie."
Ten opsigte van herstelwerk aan Oudtshoorn se paaie, het die direkteur finansies, Chris Koch, gesê: "Die munisipaliteit benodig tussen R71 miljoen en R74 miljoen per jaar om die paaie te onderhou. Tans moet ons met R4 miljoen oor die weg kom."
Koch het gesê R1,5 miljoen word benodig om bestaande pypbreuke te herstel.
Oorblywende vergaderings is:
- Maandag 16 Oktober (wyk 5 - Smartie Town-kleuterskool)
- Dinsdag 17 Oktober (wyk 6 - Toekomsrus-gemeenskapsaal)
- Woensdag 18 Oktober (wyk 7 - St. Nicholas-kerksaal)
- Donderdag 19 Oktober (wyk 8 - Thusong-dienssentrum)
- Maandag 23 Oktober (wyk 9 - Dysselsdorp-gemeenskapsaal)
- Dinsdag 24 Oktober (wyk 10 - Dysselsdorp-gemeenskapsaal)
- Woensdag 25 Oktober (wyk 11 - Blomnek-gemeenskapsaal)
- Donderdag 26 Oktober (wyk 12 - nuwe raadsaal)
- Maandag 30 Oktober (wyk 13 - Bridgton-biblioteek).
Onderburgemeester Noluthando Mwati en raads-lid George Kersop tydens wyk 2 se terugvoervergadering.
ARTIKEL & FOTO: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'