OUDTSHOORN NUUS - In weerwil van ‘n hofbevel deur die hooggeregshof op 10 Septmeber het die Oudtshoorn-raad Maandag voortgegaan en Walter Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Hulle het dit reeds ‘n aantal weke gelede probeer, maar die vorige burgemeester en vorige waarnemende munisipale bestuurder het die hof genader vir ‘n dringende interdik om die aanstelling ter syde te stel.
Regter Nathan Hendricks het op 10 September gelas dat geen aanstellings en verskuiwing van amptenare deur die raad gemaak mag word alvorens hy ‘n finale uitspraak lewer nie. Die uitspraak is nog nie gelewer nie.
Die raadsvergadering waartydens Hendricks aangestel is, het Maandagmiddag in komitee plaasgevind met 13 raadslede. Dit volg nadat Vlancio Donson en Barbara Owen van Icosa voorverlede Vrydag tydens ‘n spesiale raadsvergadering as burgemeester en speaker aangestel is. Die DA se Chris Macpherson en Julia le Roux is tydens daardie vergadering as burgemeester en speaker met mosies van wantroue verwyder.
Oudtshoorn Courant het Woensdag in ‘n navraag aan die munisipaliteit gevra of die aanstelling van Hendricks wettig was gesien in die lig van die uitspraak van regter Erasmus.
In reaksie daarop het Donson gesê die uitspraak van Erasmus geld nie meer nie aangesien dit op die vorige raad van toepassing was en dat daar intussen ‘n “nuwe” raad is. Sy reaksie lui as volg: “The judgment was done in response to the application done by the previous Council. A new Council has been formed, and it is performing its constitutional mandate, and therefore, as the new Council we are not in contravention of the law.”
Oudtshoorn Courant se volgende navraag het gevra in welke manier daar nou ‘n “nuwe” raad teenoor ‘n “vorige” raad is aangesien daar geen verandering in raadslede was nie. Die leierskap van die raad het bloot verander, maar geen raadslede is vervang nie. ‘n Antwoord op hierdie navraag is teen vanoggend nog nie ontvang nie.
Die DA voer aan dat die proses waarvolgens Hendricks aangestel is, onwettig was en bevraagteken die motiewe van die huidige leierskap wat kort voor die plaaslike verkiesing oor minder as ‘n maand die raad wou oorneem. Hendricks was tot onlangs ‘n direkteur by die George-munisipaliteit en is tans saam in ‘n hofsaak oor beweringe van bedrog betrokke.
Intussen het die burgerregte-organisasie, Afriforum, aangedui dat hulle volgende week ‘n dringende vergadering met inwoners belê om die situasie te bespreek en moontlike stappe te oorweeg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'