OUDTSHOORN NUUS - 'n Omkoopbom het Dinsdag tydens 'n perskonferensie by die Oudtshoorn-munisipaliteit gebars toe onder-burgemeester Mlandeli Nyuka (Suid Kaap Saamstaan) onthul het dat hy R30 000 deur die ANC in Kannaland aangebied is om sy rug op die DA-beheerde koalisie in Oudtshoorn te draai.
Die ANC is tans aan bewind in Kannaland.
Die Oudtshoorn-raadsaal bestaan uit 25 setels; 13 van die DA-koalisie (Icosa, VF Plus en Suid-Kaap Saamstaan) en 12 lede van die ANC-koalisie (Good, OGI, PA, Advieskantoor) - wat beteken dat die magsbalans op 'n mespunt gebalanseer is om beheer oor die raad en dorp te kry. Nyuka het glo oproepe van die munisipale bestuurder en burgemeester in Kannaland in hierdie verband ontvang.
Volgens Nyuka is hy verlede week deur 'n ANC-hooggeplaasde in die Kannaland-raad, wat voor sy huis gewag het, gebel en versoek om uit te kom om 'n ooreenkoms te onderteken dat hy hom by die ANC-koalisie in Oudtshoorn gaan aansluit. Vir Nuyaka se moeite sou hy glo R30 000 ontvang.
Nyuka sê hy was uit die veld geslaan en het dadelik dié aanbod van die hand gewys. Hy sê hy het die ANC-lid verseker dat hy gelukkig is met sy huidige posisie en dat hy ook nie in die toekoms in die aanbod sou belangstel nie.
"Ek het hom direk gesê dat die mense van Oudtshoorn tans in goeie hande is en dat ek dit vir geen geld in die wêreld sal verkoop nie. So ver ek verstaan was die omkoopbedrag R100 000, maar toe dit by my kom was dit net R30 000 - so iewers langs die pad is daar nog partye wat hul gedeelte van dié R100 000 sou kry indien ek sou instem."
Nyuka blameer sy eie party, Suid-Kaap Saamstaan, se uitvoerende bestuur vir hierdie gewaagde aanbod van die ANC omdat hulle volgens hom agter sy rug gekonkel het. "Hierdie inligting het eers aan my bekend geraak toe die deal amptelik aan my voorgehou is op twee aparte geleenthede deur twee ANC-lede van Kannaland. Ek het dit toe dadelik aan George Kersop (bestuurder van die burgemeesterskantoor) gerapporteer omdat Chris Macpherson (burgemeester) nie beskikbaar was nie."
Macpherson het hierdie omkoopskandaal as 'n direkte oortreding van die gesagsoewereiniteitswet beskou wat die beherende koalisie in die Oudtshoorn-munisipaliteit het.
"Ons sal nie toelaat dat ander munisi-paliteite in die Oudtshoorn-munisipaliteit se sake kom inmeng nie en ons gaan definitief die minister van plaaslike regering in kennis stel sodat stappe onmiddellik geneem word teen die skuldiges wie se identiteite aan ons bekend is. Myns insiens is dit blatante munisipale-kaping. Ons het 'n plig om ons koalisielede te beskerm teen hierdie soort boosaardige aanslae, want môre oormôre kan jy en jou familie se lewens bedreig word as jy nie bevele van hierdie magte uitvoer nie," het Macpherson gewaarsku.
Macpherson het bygevoeg dat hy doodseker is dat die plaaslike ANC nie bewus was van hierdie omkoopkomplot nie, omdat niemand in die Oudtshoorn-raadsaal enige lid van die DA-koalisie genader het nie.
Beide Vlancio Donson (Icosa) en Johan Allers (VF Plus) het tydens die perskonferensie bevestig dat hulle toegewyd is aan die DA-koalisie om sodoende politieke stabiliteit te verseker.
'n Navraag is aan Kannaland-munisipaliteit gerig, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'