OUDTSHOORN NUUS - Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat die provinsiale regering projekte in die Oudtshoorn-distrik aanpak sonder om die munisipaliteit daaroor in te lig.
So het Sarco-raadslid Gavin Juthe, verlede Donderdag tydens 'n spesiale raadsvergadering gesê toe hy sy kommer oor die protesoptogte op die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust uitgespreek het.
Juthe het voorgestel dat die munisipaliteit 'n dringende versoek tot die Wes-Kaapse Provinsiale Wetgewer rig om die kwessie van werksgeleenthede vir inwoners van Rose Valley te bespreek.
Die voorstel is deur Hendrik Ruiters van die DA gesekondeer en eenparig deur die raad aanvaar.
Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het verduidelik dat dit nie 'n munisipale projek is nie, maar dat die wyksraadslid vir wyk 6, Jerome Lambaatjeen wel gereeld met die ontevredenes vergader.
Volgens Juthe is dit heeltemal onaanvaarbaar dat provinsie padbouwerk in die Oudtshoorn-distrik doen sonder om die Oudtshoorn-munisipaliteit te ken.
"Die werk raak die Oudtshoorn-munisipaliteit. Die provinsie kan nie net doen wat hulle wil nie. Die minister sal met die munisipaliteit moet kom praat en daar moet met die gemeenskap gekonsulteer word," het Juthe gesê.
Ruiters, het met hom saamgestem en bygevoeg dat die werkloosheidsyfer op Oudtshoorn onrusbarend hoog is. Volgens hom kan mense opgelei word vir die werk.
ANC-raadslid Henry Tyatya, het bygevoeg dat dit 'n baie groot uitdaging is. Volgens hom is die afgelope tyd se protesoptogte moontlik net die begin van baie. Hy het Ruiters gesteun.
Volgens hom is die wykskomitees ook nie doeltreffend nie. Hy het 'n beroep op alle raadslede gedoen om saam te werk om werksgeleenthede in die dorp te skep.
Volgens Lambaatjeen weet nie eens die Eden-distriksmunisipaliteit wanneer Provinsie met projekte in die streek begin nie.
Volgens hom het hy aan die kontrakteur van die N12 padbouprojek voorgestel om werksgeleenthede te roteer en sodoende meer inwoners te betrek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'