OUDTSHOORN NUUS - Sewe trompoppies van Oudtshoorn, wat onlangs Protea-kleure verwerf het, vertrek in September na Zader in Kroasië om aan die Majorette World Federation Championships (MWF) te gaan deelneem.
Hierdie kampioenskappe word as die grootste van sy soort in die wêreld beskou en om hierdie droom te verwesenlik, moet elke trompoppie sowat R41 000 insamel.
Die kostes sluit hul paspoorte, nasionale drag en vlugkostes uit.
Die ouers van die verkose trompoppies, Shawna Campher, Jeswinique Davids, Snakho Donsa, Chanein Hifke, Isiphile Mtshutshwane, Somila Salman en La Rashelle Vywer het tans 'n komitee gestig waaronder hulle fondsinsamelingsfunksies hou om die kostes te finansier.
Daar sal ook funksies gehou word wat braaivleis, potjiekos en roetie-verkope sal insluit. Die ouers doen 'n beroep op die gemeenskap en besighede om 'n helpende hand uit te reik.
Hulp kan in enige vorm verskaf word, selfs bestanddele vir die koskaartjies wat beoog word.
Bo en behalwe hierdie yslike uitgawes, is daar ook die nasionale trompoppie-kampioenskappe wat in die Julie-vakansie in Durban sal plaasvind. Hier beloop die koste R4 000 per trompoppie.
Die liefdadigheids-organisasie Sport Buddy Charity, het reeds aangedui dat hy die ouers sal bystaan met bestanddele vir hul kosverkope.
Vir navrae en hulp in hierdie verband, kontak 063 938 2855.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’