KAROO NUUS - 'n Hele paar bekende skrywers van die Karoo en Suid-Kaap neem vanjaar aan die Prins Albert-leesfees wat op 25, 26 en 27 Augustus op dié dorp aangebied word, deel. Dié boekefees is sedert 2013 jaarliks gehou, met die uitsondering van die Covid-19-inperkingstyd.
Gewilde boeke en skrywers is op die program, wat die genres romans (veral spanningsromans), ware misdaad, geskiedenis, oorlogvoering, poësie, reisverhale, fotografie, motivering en sielkunde insluit.
Die première van Boet se goed, 'n dokumentêr oor die Karoo-kunstenaar Boet van der Hoven deur die filmmaker, regisseur en draaiboekskrywer Koos Roets van Klaar-stroom, word by die openingsgeleentheid vertoon, saam met die bekendstelling van die fotoboek van die Prins Albertse fotograaf Louis Botha, Karoo II.
Die volledige lys deelnemende skrywers is Sally Andrew (The Milktart Murders), Sidney Gilroy (Vlam), Chris Karsten (Op pad na Moormansgat), Bettina Wyngaard (Lokval), Julian Jansen (Moord op Stellenbosch), Daniel Hugo (Vers en Kapittel II), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom), Eunice Bauermeester (Die Kaapse Slawe: 1652-1838 – 'n kultuurhistoriese perspektief), Die bardo van Biko April (Sjaka S Septembir), Alexander Strachan (Recce I, II en III), Frederik de Jager (Ver in die wêreld) en die bekende 7de Laan-aktrise Lindie Stander (Agter my glimlag).
Die oudhoof van die ATKV, Japie Gouws van Mosselbaai, is een van die aanbieders. Die kinder- en jeugboekskrywers wat by die skoleprogram betrokke is, is Thana de Clerk (Juan en die bidsprinkaan) en Hanli Burger (Die reus van Groenberg), asook Anzil Kulsen (Karatekas: dorings en drake). Kulsen bring ook haar skrywersontwikkelingsprogram vir leerders na die fees, terwyl Chareldine van der Merwe van die ATKV op die Vrydagmiddag 'n leesontwikkelingsprogram vir onderwysers saam met kenners aanbied.
The Book of Love, 'n toonsetting van gedigte in verskeie tale, is die titel van die sangeres Madeleine Barnard se kabaretvertoning op Saterdagaand 26 Augustus in die stylvolle restaurant African Relish.
Die Suid-Kapenaars en Karoo-inwoners op die program is Karsten van George, Gilroy van Groot-Brakrivier, Hugo en Botha van Prins Albert, Bauermeester van Klaarstroom, Strachan van Mosselbaai, De Jager van Stilbaai en Andrew van Ladismith.
Reinie Smit, 'n Leesfees-komiteelid, het by navraag gesê die belangrikheid van die fees vir die dorp is dat die hele gemeenskap blootstelling kry en toeriste en boekliefhebbers van buite na die dorp lok "wat hul tyd hier kom spandeer, wat 'n inspuiting vir die dorp se ekonomie is en waarby bedrywe soos gastehuise, restaurante en winkels sal baatvind. Dis 'n fees vir volwassenes en vir skoolkinders, en ons billike kaartjiepryse verseker dat almal die program sal kan bywoon. Die venues is ook maklik bereikbaar, naamlik in die hoofstraat – dit is die NG kerksaal sowel as African Relish".
Volgens die komiteevoorsitter, Vanessa Botha, ondersteun verskeie groot borge die fees, onder meer die ATKV, die Hiemstra Trust, die Dagbreek Trust, die Prins Albert-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement sport en kultuursake.
"Die belangrik dat 'n lees- en boeke-kultuur in ons dorp gevestig word, om plaaslike inwoners hieraan blootselling te gee en om die dorp se toerismebedryf 'n hupstoot te gee. Ná die negatiewe invloed van die Covid-19-pandemie op die kunste en kunstenaars, het die Prins Albert-leesfeeskomitee, in samewerking met die dorp se Toerismevereniging, besef dat 'n post-inperking-herlewing van skryfwerk onverwyld in die omgewing moet plaasvind."
Teenoor vorige jare wat November as aanbiedingsmaand gekies het, het die komitee besluit einde Augustus gee die dorp die beste kans op 'n suksesvolle skrywers-en-boekefees, in die konteks van ander soortgelyke feeste in die land.
Meer inligting sal binnekort op die Prins Albert-leesfees se Facebook-blad bekend gemaak word.
Sidney Gilroy
Thana de Clerk. Foto: Alexis Scholtz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’