OUDTSHOORN NUUS - Die onlangse besoek van die DA se kies-afdelingshoof van Oudtshoorn en Kannaland, Okkie Terblanche, het weereens die kollig op die toestand van die Dysselsdorp-polisiestasie geplaas by die Departement van openbare werke en infrastruktuur.
Dit blyk egter dat daar nie dringende planne in die pyplyn is om die gebou te herstel nie.
Oudtshoorn Courant het vroeër die maand oor die vervalle toestand van die stasie berig. Volgens navrae wat aan die polisie gerig is, is die departement van openbare werke en infrastruktuur, verantwoordelik vir die herstel van die gebou.
Thami Mchunu, woordvoerder van die departement, het die week die navraag van Oudtshoorn Courant geantwoord.
Volgens Mchunu is die departement wel vir die herstel en opgradering van staatsgeboue verantwoordelik en is hulle al 'n geruime tyd bewus van die probleem.
"Die departement van publieke werke en infrastruktuur is sedert 2017 bewus van die defekte aan die gebou. Die departement het besluit om weer die kontrakteur, wat vir die bou van die stasie verantwoordelik was, te herroep en 'n nuwe kontrak is opgestel. Die departementele prosesse is egter weens Covid-19 vertraag."
Mchunu sê verder dat die departement tans besig is om administratiewe vereistes op te stel waaraan voldoen moet word voor ontwerpskonsultante vir die projek aangestel word.
"Dit is net vir die deel van die gebou waar strukturele probleme is. Dié spesifieke deel is afgekordon en toegemaak sodat niemand kan seerkry nie. Die werk aan die stukkende deel van die gebou gaan begin sodra die konsultante aangestel is.
'n Tydlyn kan egter nie deur die departement gedeel word nie, aangesien die tyd wat dit neem vir die aanstelling van geskikte professionele persone van projek tot projek verskil."
Die gebou
Terblanche het tydens sy besoek gesê die Dysselsdorp-polisiestasie is onveilig verklaar en polisiebeamptes moes hul kantore na 'n "beknopte, onvoldoende werkstasie verskuif".
Dié stasie is teen R44 miljoen gebou en is in 2017 geopen. Die gebou moes egter in dieselfde jaar weer sluit omdat die fondasie van die stasie onstabiel was en massiewe krake in die gebou veroorsaak het.
Volgens 'n betroubare bron is daar onder-meer aanhoudingselle wat nie gebruik kan word nie omdat daar 'n risiko is dat die mure op mense kan inval.
"Daar is destyds toe daar met die bou van die stasie begin is gesê dat dit nie 'n geskikte perseel is om te bou nie, want daar dam te veel water op. Dit is ook hoekom niemand huise op daardie grond wou bou nie. Nie eers opslaanhutte nie."
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het in 2017 gesê 'n span ingenieurs van Pretoria is ingekry om saam met die kontrakteur 'n ondersoek te doen.
"Verskeie toetse, waaronder grondtoetse om stabiliteit en gehalte van die oppervlakte te toets, is reeds uitgevoer en dui aan dat die grond voldoen het aan die bepalings van die bouregulasies. Verdere ondersoek word tans gedoen," het sy verklaring gelui.
Die krake is duidelik sigbaar.
Die deel van die gebou waar die probleme is, is vir personeel gesluit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'