OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie vra die gemeenskap se hulp om drie verdagtes vas te trek na 'n 12-jarige meisie na bewering ontvoer en aangerand is.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval op 18 November om 17:50 in 12de Laan plaasgevind.
"Die meisie was na bewering op pad winkel toe, toe 'n swart BMW met drie onbekende mans langs haar gestop het.
"Die mans het die meisie ontvoer en haar na die begraafplaas geneem waar hulle haar gedreig en aangerand is. Die meisie is dieselfde aand deur die beweerde ontvoerders in Fernstraat afgelaai."
Volgens die beskrywing wat sy aan die polisie verskaf het was al drie die mans bruin. Twee van die mans was donker van kleur terwyl die ander een ligter is.
Al drie verdagtes het swart T-hemde aan gehad met 'n geel sirkel op. Binne-in die sirkel was 'n geraamte met twee strepe oor. Hulle het al drie swart leerbaadjies, denim-broeke en veiligheidskoene met veters aangehad.
Enige persoon wat inligting het of die mans herken kan vir ao. Michael de Kock skakel by 044 203 7500.
Alle inligting word vertroulik hanteer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'