Update
OUDTSHOORN NUUS - As gevolg van ‘n brand wat onlangs etlike wonings in Asterhof, Bridgton op Oudtshoorn in puin gelê het, het die Oudtshoorn-polisie beide ‘n navraagdossier en ‘n dossier vir openbare geweld oopgemaak vir ondersoek.
Die brand het laat Vrydagaand, 29 Desember, uitgebreek en talle families haweloos gelaat. ‘n Betroubare bron het aan Oudtshoorn Courant vertel dat 11 "hokke" afgebrand het, wat om en by 17 grootmense en 9 kinders gehuisves het.
Beide die plaaslike- en weermagbrandweer is na die toneel geroep om die vlamme onder beheer te bring.
Volgens sers Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het polisie omstreeks 00:40 Saterdagoggend, 30 Desember, na die toneel gegaan om ondersteuning aan ander nooddienspersoneel te verleen. “Op hul aankoms het hulle wonings gevind wat erg beskadig is deur die brand. 'n Ondersoekdossier is in hierdie verband geopen,” het Spies gesê.
Hier kan mens sien hoe 'n matras heeltemal uitgebrand het. Foto: Facebook
Spies het gesê daar word verder beweer dat ‘n groep bystanders op die toneel vergader het wat nooddienspersoneel gedreig en gevloek het. “Die groep het lede van die brandweer met klippe en bottels gegooi. Die polisie het rubberkoeëls gebruik om die groep uitmekaar te jaag,” het hy bygevoeg.
As gevolg van hierdie insident is ‘n dossier vir openbare geweld oopgemaak vir ondersoek, het Spies bygevoeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’