DYSSELSDORP NUUS - 'n 46-jarige vrou is die afgelope naweek deur lede van die Dysselsdorp-polisie in hegtenis geneem na hulle 1 030 Mandrax-tablette, wat vir 'n plaaslike verspreiding bedoel is, sowel as vermoedelik gesteelde rekenaartoerusting by haar huis gevind het.
Die straatwaarde van die Mandrax is R61 800.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisie 'n lasbrief bekom vir die deursoeking van die huis in Heinz View. "Die Mandrax is in plastiek in die huis toegedraai gevind. Die rekenaartoerusting wat gevind is word met 'n inbraak by 'n skool verbind. Die dwelms en die rekenaartoerusting is as bewysstukke by die polisie ingedien."
Die verdagte sal in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van handel in dwelms en besit van vermoedelik gesteelde eiendom verskyn.
Eden-klusterbevelvoerder, genl.maj. Oswald Reddy, het die lede vir hul optrede geloof. "Die optrede sal 'n sterk boodskap aan dwelmhandelaars uitstuur," het Reddy gesê.
Die rekenaartoerusting wat met 'n inbraak by 'n skool in Dysselsdrop verbind word.
Die Mandrax is in plastiek in die huis toegedraai gevind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'