OUDTSHOORN NUUS - Die polisie het vanoggend 'n man vir ondervraging aangekeer nadat hy by 'n verkeerslig probeer het om in 'n vrou se motor te klim.
Die vrou het in haar VW Golf by 'n verkeerslig in Voortrekkerweg gewag toe 'n man wat met geld in die hand langs die pad gestaan het na die Golf toe stap en die deure probeer ooppluk het.
Hy het aan die vroulike bestuurder beduie dat sy die deur moet oopsluit, maar sy het geweier. 'n Verslaggewer van Oudtshoorn Courant was in sy motor agter die Golf en het vir die man getoet en begin uitklim om tussenbeide te tree, maar die man het toe weggestap.
Die vrou het in Pick n Pay se parkeerarea stilgehou en gesê sy het groot geskrik en is dankbaar dat haar deure gesluit was.
Die verslaggewer het die polisie ontbied en ook 'n sekerheidsmaatskappy van die voorval verwittig. Intussen het nog iemand die verslaggewer ingelig dat die man na die voorval met die Golf ook die deur van 'n bakkie wat by die verkeerslig stilgehou het, probeer ooppluk het.
Die man, geklee in 'n blou jean, donker grys bostuk en 'n oranje pet het in die rigting van Baron van Reedestraat gestap en is toe deur lede van MSec en Blacklist sekerheidsmaatskappye voorgekeer en aan die polisie oorhandig wat kort daarna op die toneel was.
Volgens die man het hy net 'n geleentheid Kaapstad toe gesoek, maar 'n sekerheidswag by die munisipaliteit het gesê dat hy reeds dae vantevore ook in die straat was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'