Update
OUDTSHOORN NUUS - Die DA se kiesafdelingshoofde vir Oudtshoorn en Kannaland het onlangs onderskeidelik by die Calitzdorp-, Dysselsdorp en De Rust-polisiestasies besoek afgelê en op onrusbarende tekortkominge afgekom.
Beide Okkie Terblanche vir Oudtshoorn en Eleanore Bouw-Spies vir Kannaland is dit eens dat die polisiestasies 'n tekort aan hulpbronne het, dat die geboue aandag verg en dat die beamptes te veel werk het.
Dysselsdorp
Die Dysselsdorp-polisiestasie is onveilig verklaar en polisiebeamptes moes hul kantore na 'n "beknopte, onvoldoende werkstasie skuif".
Dit is volgens 'n verklaring van die DA se kiesafdelingshoof in Oudtshoorn, Okkie Terblanche, wat onlangs 'n besoek aan dié stasie afgelê het.
"Dit is uiters kommerwekkend om te sien dat al die dorpe met dieselfde probleme by die stasies sit. Almal het 'n tekort aan hulpbronne en die geboue kort aandag," het Terblanche gesê.
Hy het vroeër vanjaar ook 'n besoek aan die Oudtshoorn-polisiestasie afgelê. Volgens hom is daar ook 'n reusetekort aan personeel by die Dysselsdorp-polisiestasie.
"Ten tyde van die besoek het ek gevind dat daar 'n tekort aan sigbare polisiëring is en daar is 'n tekort aan ondersoekbeamptes. Die wat daar is het ongeveer 80 sake per beampte wat hulle moet oplos."
Terblanche het gesê dat die De Rust-stasie ook dieselfde probleme ervaar en veral probleme met hul voertuie ondervind.
Okkie Terblanche tydens sy besoek aan die Dysseldorp-polisiestasie.
Volgens hom was die skokkendste bevinding egter die toestand van die polisiestasie self.
"'n Tekort aan personeel en 'n vervalle werkspasie is nie bevorderlik vir die bekam-ping van misdaad in Dysselsdorp nie. Ons polisiebeamptes kan nie onder hierdie omstandighede werk nie."
Oudtshoorn Courant het in 2017 reeds hieroor berig. Dysselsdorp-polisiestasie is teen R44 miljoen gebou en is amptelik in Maart 2017 geopen. Teen Junie 2017 moes die gebou gedeeltelik gesluit word en personeel moes skuif.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het in 2017 gesê 'n span ingenieurs van Pretoria is ook ingekry om saam met die kontrakteur 'n ondersoek te doen. "Verskeie toetse, waaronder grondtoetse om stabiliteit en gehalte van die oppervlakte te toets, is reeds uitgevoer en dui aan dat die grond voldoen het aan die bepalings van die bouregulasies. Verdere ondersoek word tans gedoen," het sy verklaring gelui.
Oor waarom daar steeds niks aan die toestand van stasie gedoen is nie, het Pojie die week gesê dat die probleem aan die nodige owerhede gestuur is en dat daar steeds aan die probleem gewerk word.
"Intussen gaan dienslewering voort en word die gemeenskap steeds waardig en professioneel deur die SAPD bedien," aldus Pojie.
'n Navraag is ook aan die departement van openbare werke gestuur, maar is nie teen druktyd beantwoord nie.
Calitzdorp
Spies het na haar besoek aan Calitzdorp-stasie gesê dat dié stasie, net soos al die ander in Kaapstad en Oudtshoorn, te min hulpbronne het.
"Daar is tans net drie voertuie by die stasie en net een van die voertuie is hul eie. Hul eie een is tans in vir herstelwerk en die ander twee word by Oudtshoorn geleen. Oudtshoorn-stasie sukkel egter self met hulpbronne. Die seniorlede het ook melding gemaak van die feit dat daar 'n massiewe tekort aan personeel is."
Die DA het ook met die lede van die Calitzdorp-gemeenskapspolisiëringsforum ontmoet.
"Hulle werk ewe hard om die dorp vir almal veiliger te maak. Die lede van die GPF het egter genoem dat die ernstige tekort aan polisievoertuie en personeel kommerwekkend is. Ons wil ook die GPF-lede vir hul harde werk bedank."
Die DA in Kannaland het hulself tot die volgende verbind:
- Om die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, Reagan Allen, asook ministers van ander relevante departemente, te nooi om te verseker dat amptenare op 'n gekoördineerde wyse saamwerk om misdaad te bekamp;
- Om 'n databasis van alle organisasies en instansies te vestig wat gemeenskap-opheffingsprogramme in die gebied doen om misdaad te bekamp;
- Om die SAPD-kantore te ondersteun waar nodig; en
- Om die Calitzdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum te ondersteun.
Eleanor Bouw-Spies (regs) gesels met lede van die Calitzdorp-polisiestasie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'