OUDTSHOORN NUUS - 'n Meisie wat verlede Dinsdag (5 Januarie) ernstig met 'n mes gewond is, se lewe is volgens haar ouers deur die vinnige optrede van die polisie gered.
Die 14-jarige Gertrudene Botha het Dinsdagmiddag bebloed by haar ouerhuis in Leeubekkieweg ingehardloop nadat sy vroeër saam met 'n maatjie winkel toe is om krag te koop.
Haar ouers, Harold en Jordina Baartman het verlede week aan Oudtshoorn Courant vertel dat hulle gesien het hoe hulle kind by die minuut swakker word terwyl 'n meswond in haar rug onophoudelik gebloei het.
Die voorval het skaars 20m van die huis af gebeur en Harold was van sy werkplek op pad huis toe toe die voorval gebeur het. Jordina het vertel dat haar dogter by die huis ingehardloop het en op 'n stoel neergesak het.
"Ek en ons buurvrou was agter in die huis en toe ons in die kombuis inkom was die vloer en my kind vol bloed. Ons het dadelik die ambulans gebel. Na 'n rukkie het ons die polisie ook gebel, want die ambulans het nie gekom nie." Volgens haar was die polisie baie vinnig by hulle en Harold het net daarna ook by die huis aangekom.
"Die polisie het gesê ons kan nie vir 'n ambulans wag nie en hulle het met ons en met Getrudene hospitaal toe gejaag. Hulle het ons kind se lewe gered, want sy het soveel bloed verloor sy het al begin koud word en sy het gesukkel om asem te haal."
Gertrudene is Vrydagoggend uit die hositaal ontslaan en volgens Jordina het die mes ook een long beskadig.
Getrudene het Saterdag aan Oudtshoorn Courant vertel wat dié Dinsdagmiddag gebeur het.
Volgens haar het sy en 'n vriendin winkel toe gestap om krag te koop. By die winkel het hulle nog 'n meisie (13) teëgekom wat glo met hulle begin argumenteer het.
"Sy het vir ons 'n mes gewys en gesê sy wag vir ons, maar toe ons uitkom was sy weg en ons het 'n ander pad huis toe gevat." Sy sê dat die ander meisie egter weer verskyn het en hulle begin jaag het. Hulle het tot op 'n oop stuk veld naby Getrudene se huis gehardloop.
"Ons het toe gestop en ek het nog omgedraai en vir haar gesê 'jy't ons nou lekker gejaag, maar nou is ons by my huis', maar sy het nie omgedraai nie. Sy het die Okapi se lem oopgemaak en na ons toe gehardloop."
Volgens Getrudene het hulle toe weggehardloop en na 'n paar treë het sy 'n pyn in haar rug gevoel. "Toe sien ek sy het my met die mes gegooi en die mes sit in my vas." Sy het huis toe gehardloop en die mes het uitgeval en is glo deur die aanvaller opgetel voordat sy gevlug het.
Die Baartmans het foto's van die kombuis en 'n stoel geneem waarop duidelik gesien kan word dat Getrudene baie bloed verloor het.
"My kind het begin bewe en baie koud gekry, ek het gesien hoe gaan sy dood," het Jordina vertel.
Harold het beaam dat die polisie nie tyd verspil het om vir 'n ambulans te wag nie en eerder met die beseerde kind hospitaal toe gejaag het.
Volgens bure het die ambulans wel later opgedaag.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie word 'n saak van ernstige aanranding ondersoek en die verdagte sou gister (13 Januarie) in die hof verskyn het.
Aangesien sy minderjarig is, mag haar naam nie bekend gemaak word nie en sal hofverskynings in camera plaasvind. Getrudene se ouers het gesê dit is kommerwekkend dat kinders van 13 nie net met messe rondloop nie, maar dit sonder om tweekeer te dink, sal gebruik.
"Ons kind is reg voor ons eie huis byna doodgemaak." Hulle het die polisielede wat hulle te hulp gesnel het en die mediese personeel by die hospitaal bedank vir hulle uitstekende diens.
Die bebloede kombuisvloer waar Gertrudene by die huis ingekom het. Foto's verskaf
Die stoel waarin Getrudene inmekaar gesak het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'