OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Blomnek, De Rust, wat sy voormalige meisie in die maag en rug met 'n skerp voorwerp gesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot volgende jaar uitgestel. Heinrich Swartbooi (24) staan tereg op aanklag van poging tot moord op Viehonna Hendricks (22).
Swartbooi het Hendricks glo by 'n taverne saam met ander mansvriende raakgeloop en later agtervolg. Hy het haar voete onder haar uitgeskop, haar geskop en getrap en twee keer met 'n skerp voorwerp gesteek voordat hy weggehardloop het.
Hy ontken dat hy op die toneel was. Hendricks is na die George-hospitaal oorgeplaas waar sy meer as een operasie moes ondergaan.
Op 'n vraag van die staat waarom hy haar nie gaan besoek het nie, het Hendricks geantwoord dat hy nie weet waar die hospitaal in George geleë is nie. "Ek het nog nooit my hande gelig vir my kind se ma nie," het Swartbooi getuig.
Volgens die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het Swartbooi die opset gehad om dood te maak en behoort hy op die klagte van poging tot moord skuldig bevind te word terwyl sy regshulpprokureur, Brian Carelse, vir sy vryspraak vra omdat die staatsgetuies mekaar weerspreek en die staat nie daarin geslaag het om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie.
Streeklanddros Neels Nortjé het die saak vir uitspraak tot 22 Januarie 2019 uitgestel omdat daar nie enige kans is om die saak vanjaar af te handel nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'