OUDTSHOORN NUUS - Om 80 ure aaneen wakker te bly, sit nie in almal se broek nie, maar om vir 80 ure aaneen wakker te bly én te braai is vir Gielie Basson, eienaar van Zamani Grill in Calitzdorp, 'n opwindende uitdaging.
Hy gaan vanaf 21 September poog om die Guinness Wêreldrekord (GWR )vir die langste braai te breek.
Basson het aan Oudtshoorn Courant vertel dat die rekord tans 80 ure aaneen is.
"Ek poog om vir 84 ure, vanaf 06:00 op 21 September tot 15:00 op 24 September by Zamani te braai. Jan Greeff, 'n Suid-Afrikaner wat in 2014 in Amerika gewoon het, is tans die rekordhouer. Ek wil sy rekord breek."
Volgens hom is daar nie baie Suid-Afrikaners wat in die Guinness Book of Records opgeneem is nie.
"Ek wil dit ook verander. Dalk motiveer ek 'n ander Suid-Afrikaner om dieselfde te doen. My grootste doel is egter om Calitzdorp en die Klein-Karoo te bemark. Ons bly in so 'n ongelooflike deel van die land - hoekom kan ons nie daaroor spog nie?"
Hy sê hy moet letterlik alles alleen doen en niemand mag aan die hout, die braai, die vleis of die toerusting raak tydens die poging nie.
"Ek mag die vleis op die rooster slegs met die hand omdraai en ek mag nie 'n toeklaprooster gebruik nie. Die vleis moet "eetbaar" gaar wees en mag dus nie te rou of te gaar vanaf die rooster kom nie. Een van die uitdagings is dat die hele poging op video opgeneem moet word sodat dit as bewyse aan GWR gestuur kan word. Dit is ongeveer 86 ure se "continuous recording".
Hy mag ook nie die vleis vir wins verkoop nie. Hy gaan die eerste klomp vleis aan nooddiensbeamptes van Calitzdorp skenk. Daar gaan ook aan Vygieshof, die tehuis vir bejaardes, sowel as die sopkombuis in Bergsig vleis gegee word.
Basson sê hy beplan om van die poging 'n onvergeetlike een te maak.
"Mense word genooi om saam te kuier by Zamani. Daar gaan ook lewendige musiek wees. Ek vra dat mense die naweek van 21 September na Calitzdorp toe moet kom en by die GWR poging kom inloer, foto's neem en op hul sosiale media te plaas sodat die hele wêreld kan weet dat Calitzdorp nie terugstaan vir die groter dorpe nie en dat die woord kan versprei, want Calitzdorp gaan die Guinness World Rekord kry."
Vir meer inligting kontak Basson by 083 261 8478.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’