OUDTSHOORN NUUS - Een van die langsdienende personeellede van die Oudtshoorn-landdroshof, ao. Pieter 'Pine' Pienaar, tree einde vanjaar na meer as 38 jaar in die polisie en 30 jaar as hofordonnans uit diens.
"Dit voel so onwerklik, maar ek sien uit na die rus," het Pienaar verlede Woensdag tydens 'n afskeidsgeselligheid by die landdroskantoor gesê.
Pienaar het in 1982 by die polisie aangesluit en is vanaf 1990 hofordonnans, die laaste twee jaar as bevelvoerder van die hofordonnanse.
Hy is een van slegs vier personeellede wat in 1991 by die huidige landdroskantore begin werk het.
Hooflanddros Jaco Lambrechts, het Pienaar as 'n ware steunpilaar beskryf en iemand wat "altyd daar was" wanneer jy op sy nommer gedruk het, en hom namens die departement van justisie bedank.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Pienaar as 'n toegewyde amptenaar beskryf wat almal met respek behandel het.
Pienaar het in 1982 in die Oos-Kaap by die destydse spoorwegpolisie aangesluit wat in 1986 by die Suid-Afrikaanse Polisie ingelyf is.
Hy het tot in 1989 op Klipplaat gewerk en toe na Oudtshoorn gekom.
Volgens Pienaar is wyle Lawrence Oliphant, broer van die ontslape Reggie Oliphant een van die mense wat hy altyd sal onthou vir sy bywoning van hofsake en regsadvies wat hy aan lede van die publiek gegee het.
Pienaar en sy vrou, Silly, wat 36 jaar getroud is, is baie trots op hul twee dogters, Hedwigg, 'n prokureur, en Lauren, 'n onderwyser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'