Update
OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Martin Noël Pietersen, het verlede week by die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste aangemeld om sy vonnis van twee jaar uit te dien.
So het Phillip Busch, hoof van dié gevangenis gesê.
Pietersen se vonnis van vyf jaar wat in 2017 in die Oudtshoorn-streekhof opgelê is, is verlede maand deur die Kaapse hooggeregshof verminder tot twee jaar, waarna hy aangedui het dat hy ook daarteen wil appelleer.
Hy hou vol dat hy geen geld van die Oudtshoorn-munisipaliteit in sy sak gesteek, gesteel of bedrog gepleeg het nie en dat hy ook nie die munisipaliteit se geld verkwis het nie.
"Dit is die rede waarom drie klagtes in my guns bevind is," het hy na die beslissing van die hooggeregshof gesê.
Hy en sy regsverteenwoordiger, adv. Jerome van der Schyff, is van mening dat die regters 'n fout begaan het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie juis omdat sy getuienis die enigste ware weergawe in die streekhof op Oudtshoorn was en dat daar geen getuienis voor die hof was wat dit weerspreek het nie.
Die landdros het volgens hulle foutiewelik afleidings gemaak wat nie deur die staat bewys kon word nie, en daarom het die hooggeregshof sy getuienis in die hof, wat totaal deur die landdros verwerp is, erken en aanvaar.
Die hooggeregshof het op 7 Februarie vanjaar die skuldigbevinding op drie van die vyf aanklagte ter syde gestel. Die hof het ook die twee orige aanklagte oor die wettigheid en dringendheid van 'n kontrak saamgeneem vir die nuwe vonnis.
Volgens Pietersen het die regters bevind dat hy nie nalatig was nie, en het hy in die beste belang van die gemeenskap opgetree om die Oudtshoorn-munisipaliteit reg te ruk.
Volgens Pietersen sal sy stryd om geregtigheid voortgaan.
Lees vorige artikels hieronder:
- Pietersen baklei steeds teen vonnis
- Voormalige munisipale bestuurder skuldig
- Voormalige munisipale bestuurder word glo belaster
- Voormalige munisipale bestuurder getuig
- Opvolg: Saak teen burgemeester uitgestel
- Pietersen-saak in handelsmisdaadhof
- Sake teen amptenare uitegestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'