OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Kunstevriende, wat in April 2018 op die been gebring is om die behoefte aan goeie musiek in Oudtshoorn, aan te spreek, het onlangs aan twee bekende pianiste die geleentheid gegee om hul talent en harde werk ten toon te stel.
Marlene Vlok en Sulayman Human, het 'n musikale kragtoer gelewer met werke van Mozart, Brahms, Schumann en Barber.
"Die program was so saamgestel om die gehoor aan 'n verskeidenheid en 'n vloei van klanke bloot te stel," sê Sulayman.
"Dit was so lekker vir my en Marlene, wat albei onder Nina Schumann en Luis Magalhaes studeer het, om weer saam 'n opvoering te kon hou," sê hy.
Beide musikante is deur die Covid-19-pandemie geaffekteer. Marlene, wat verlede jaar haar B.Mus. voltooi het, se droom is om verder te studeer, moontlik in Frankryk of Amerika. Sulayman, wat in 2014 gegradueer het en sy M.Mus. op ys gesit het toe hy heelwat nasionale optredes gedoen het, droom ook van verdere studies, moontlik in die kultuurryke Duitsland.
Volgens die organiseerders van die musiekaande wat by die Cape Karoo Ostrich Emporium aangebied word, word hierdie geleenthede baie goed bygewoon.
"Ek dink mense is behoorlik uitgehonger om lewendige konserte te kan bywoon, dit is net soveel anders as aanlynvertonings. Vir ons is dit verblydend dat die inwoners plaaslike talent so goed ondersteun, veral in hierdie moeilike tye," sê AnneLise Vlok van Oudtshoorn Kunstevriende.
Vir verdere inligting oor toekomstige optredes kontak Antoinette le Roux of 084 567 1030 of AnneLise Vlok by 072 592 3928.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'