DYSSELSDORP NUUS - Vyf persone met gestremdhede het verlede Donderdag sleutels tot hul splinternuwe huise in Dysselsdorp vanaf die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertius Simmers in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang.
Hierdie spesifieke huise is ontwerp en toegerus met spesiale kenmerke vir elke individu volgens hul fisiese gestremdheid.
Die kenmerke sluit in, maar is nie beperk nie tot relings binne die badkamer om te help met mobiliteit en 'n rolstoeloprit sowel as 'n netjiese stort met gordyne. Dan is 'n koopkragmeter ook geïnstalleer by elk van die huise.
Die Dysselsdorp-behuisingsprojek het 'n totale begroting van R130 miljoen beloop en die konstruksie het reeds in September 2021 begin met die doel om 522 huise te voltooi.
Tot op hede het meer as 420 begunstigdes eienaarskap van hul nuwe huise geneem.
Die Dysselsdorp-gemeenskap het in groot getalle opgedaag om die formaliteite by te woon waar Simmers hulle toegespreek het. Simmers het onder andere 'n pleidooi aan die gemeenskap gerig om die nuwe huise te waardeer.
"In 2019 het die departement die prioritisering van die mees kwesbare burgers vir behuisings-geleenthede gefor-maliseer. Mense wat met gestremdhede leef is by daardie groep ingesluit. Dit is dus met groot trots dat ons hierdie huise oorhandig soos beoog. Die hoop van die begunstigdes en die Dysselsdorp-gemeenskap is herstel."
Volgens Simmers is die departement ook bewus dat in sommige geïsoleerde gevalle waar daar begunstigdes is wat die toegekende huise onwettig verkoop (voor die agt jaar tydperk verstreke is) of verhuur.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om sulke gevalle dadelik aan die betrokke wyksraadslid te rapporteer sodat die nodige stappe geneem kan word vir 'n uitsettingsbevel," het hy onder luide applous gesê.
Wyksraadslid Sharon van Rooyen (oranje baadjie) ontvang vrae van die gemeenskap.
Raadslid Sharon Van Rooyen van wyk 10 in Dysselsdorp het tydens haar spreekbeurt dankbaarheid uitgespreek teenoor die provinsiale regering wat by hierdie behuisingsprojek betrokke was. Van Rooyen het ook erkenning gegee aan die toewyding en harde werk van alle belanghebbendes wat die visie van toeganklike behuising in 'n werklikheid omskep het.
'n Opgewonde en duidelik aangedane rolstoelgebonde Sophia Lukas (69) het gesê dat sy sedert 1996 op die waglys is en dat sy baie dankbaar is dat die dag uiteindelik aangebreek het om haar eie porsie grond en huis te besit.
Yvonne Lukas wys trots na die koopkragmeter wat geïnstalleer is.
Relings binne die badkamer is aangebring om te help met mobiliteit.
Die stort wat met gordyne toegerus is, is spesiaal toegerus met 'n rusbankie en bereikbare waterkontroles. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’